ED XX - Accounting Standards Board

64
Uitgegee deur die Raad op Rekeningkundige Standaarde November 2009 RAAD OP REKENINGKUNDIGE STANDAARDE STANDAARD VAN ALGEMEEN ERKENDE REKENINGKUNDIGE PRAKTYK WERKNEMERSVOORDELE (AERP 25)

Transcript of ED XX - Accounting Standards Board

Uitgegee deur die Raad op Rekeningkundige Standaarde November 2009

RAAD OP REKENINGKUNDIGE STANDAARDE

STANDAARD VAN ALGEMEEN ERKENDE

REKENINGKUNDIGE PRAKTYK

WERKNEMERSVOORDELE

(AERP 25)

AERP 25

Uitgegee November 2009 2 Werknemersvoordele

Erkenning

Hierdie Standaard van Algemeen Erkende Rekeningkundige Praktyk (AERP) berus hoofsaaklik op die International Public Sector Accounting Standard (IPSAS) oor Employee Benefits wat deur die International Federation of Accountants se International Public Sector Accounting Standards Board (IPSASB) uitgegee is. Die International Federation of Accountants (IFAC) is in 1977 gestig met die missie om die professie deur geharmonieerde standaarde te ontwikkel en te verbeter. IPSASB het 'n omvattende korpus van IPSAS'e uitgegee, wat gebruik sal word om toekomstige Standaarde van AERP te produseer. Uittreksels uit die IPSAS oor Employee Benefits word met die toestemming van die IPSASB in hierdie Standaard van AERP gereproduseer.

Die goedgekeurde teks van die IPSAS'e is dié wat deur die IFAC in die Engelse taal gepubliseer is. Die IPSAS'e is vervat in die IFAC se Handbook of International Public Sector Accounting Pronouncements en kan verkry word van die:

International Federation of Accountants

545 Fifth Avenue, 14th Floor

New York, New York 10017 USA

Internet: http://www.ifac.org

Kopiereg vir IPSAS'e, konsepte vir kommentaar en ander publikasies van die IPSASB is in die IFAC gevestig en die bepalings en voorwaardes wat daaraan verbonde is, moet nagekom word.

Hierdie Standaard het ook geput uit die International Financial Reporting Standards (IFRSs) en vertolkings uitgereik deur die International Accounting Standards Board (IASB). Die goedgekeurde teks van die IFRS en vertolkings is dié wat deur die IASB in die Engelse taal gepubliseer is. Eksemplare kan verkry word van:

IASB Publications Department

7th Floor, 166 Fleet Street

London EC4A 2DY

United Kingdom

Internet:http://www.iasb.org.uk

Kopiereg vir IAS’e, vertolkings, konsepte vir kommentaar en ander publikasies van die IASB is in die International Accounting Standards Committee Foundation (IASCF) gevestig en die

bepalings en voorwaardes wat daaraan verbonde is, moet nagekom word.

AERP 25

Uitgegee November 2009 3 Werknemersvoordele

Raad op Rekeningkundige Standaarde

Posbus 74129

Lynnwoodrif

0040

Kopiereg © 2009 deur die Raad op Rekeningkundige Standaarde

Alle regte voorbehou. Geen deel van hierdie publikasie mag sonder voorafgaande toestemming van die Raad op Rekeningkundige Standaarde gereproduseer, in 'n stelsel vir inligtingsontsluiting bewaar, versend, of in enige vorm of op enige wyse, elektronies, meganies, deur fotokopiëring, by wyse van 'n opname of andersins gereproduseer of weergegee word nie.

AERP 25

Uitgegee November 2009 4 Werknemersvoordele

Inhoud

Standaard van Algemeen Erkende Rekeningkundige Praktyk

Werknemersvoordele

Paragrawe

Inleiding

Doelstelling .01

Omvang .02 – .07

Woordomskrywings .08

Korttermynwerknemersvoordele .09 – .24

Erkenning en meting .11 – .23

Alle korttermynwerknemersvoordele .11

Vergoeding vir korttermynafwesigheid .12 – .17

Bonus-, aansporings- en prestasieverwante betalings .18 – .23

Openbaarmaking .24

Na-aftreevoordele: Onderskeid tussen omskrewebydraeplanne en omskrewevoordeelplanne 25 – .51

Multiwerkgewerplanne .30 – .36

Omskrewevoordeelplanne waar die deelnemende entiteite onder

gemeenskaplike beheer is .37 – .40

Staatsplanne .41 – .44

Saamgestelde bestaansekerheidsprogramme .45 – .47

Versekerde voordele .48 – .51

Na-aftreevoordele: Omskrewebydraeplanne .52 – .56

Erkenning en meting .53 – .54

Openbaarmaking .55 – .56

Na-aftreevoordele: Omskrewevoordeelplanne .57 – .146

Erkenning en meting .58 – .61

AERP 25

Uitgegee November 2009 5 Werknemersvoordele

Die in rekening bring van die afgeleide verpligting .62 – .63

Staat van finansiële stand .64 – .67

Bate-erkenningsplafon .68 – .70

Bate-erkenningsplafon: Wanneer ʼn minimumbefondsingsvereiste tot

ʼn las aanleiding kan gee .71 – .73

Staat van finansiële prestasie .74 – .75

Erkenning en meting: Huidige waarde van omskrewevoordeelverpligtinge en huidigedienskoste .76 – .112

Aktuariëlewaardasiemetode .77 – .79

Toeskrywing van voordeel aan dienstydperke .80 – .84

Aktuariële aannames .85 – .90

Aktuariële aannames: Diskontokoers .91 – .95

Aktuariële aannames: Salarisse, voordele en mediese koste .96 – .104

Aktuariële winste en verliese .105 – .107

Vorigedienskoste .108 – .112

Erkenning en meting: Planbates .113 – .122

Billike waarde van planbates .113 – .115

Vergoeding .116 – .119

Opbrengs op planbates .120 – .122

Oordrag van funksies en samesmeltings .123

Inkortings en aflossings .124 – .130

Aanbieding .131 – .134

Verrekening .131 – .132

Bedryfs-/niebedryfsonderskeiding .133

Finansiële komponente van die koste van na-aftreevoordele .134

Openbaarmaking .135 – .141

Ander langtermynwerknemersvoordele .142 – .147

Erkenning en meting .144 – .146

AERP 25

Uitgegee November 2009 6 Werknemersvoordele

Openbaarmaking .147

Diensbeëindigingsvoordele .148 – .159

Erkenning .149 – .154

Meting .155 – .156

Openbaarmaking .157 – .159

Oorgangsbepalings .160 – .161 .00

Aanvanklike aanvaarding van die Standaarde van AERP .160 .00

Wysigings aan Standaarde van AERP .161 .00

Datum van inwerkingtrede .162 – .163 .00

Aanvanklike aanvaarding van die Standaarde van AERP .162 .00

Entiteite wat reeds Standaarde van AERP toepas .163 .00

Grondslag vir gevolgtrekkings

Vergelyking met die International Public Sector Accounting Standard oor Employee

Benefits (Januarie 2008)

AERP 25

Uitgegee November 2009 7 Werknemersvoordele

WERKNEMERSVOORDELE

Hierdie Standaard is oorspronklik in November deur die Raad op Rekeningkundige Standaarde (die Raad) uitgegee. Sedertdien is dit deur die volgende gewysig:

Verbeterings aan die Standaarde van AERP wat in November 2013 deur die Raad uitgegee is.

Gevolglike wysigings toe die volgende Standaarde van AERP in werking getree het:

- AERP 105 Oordragte van Funksies tussen Entiteite onder Gemeenskaplike beheer

- AERP 106 Oordragte van Funksies tussen Entiteite nie onder Gemeenskaplike beheer nie

- AERP 107 Samesmeltings

'n Bygewerkte eksemplaar van die wysigings wat as deel van die Verbeteringsprojek (2013) aan AERP 25 aangebring is en die jongste gevolglike wysigings is op die webwerf beskikbaar.

Inleiding

Standaarde van Algemeen Erkende Rekeningkundige Praktyk

Daar word ingevolge die Wet op Openbare Finansiële Bestuur, Wet No. 1 van 1999, soos gewysig (WOFB), van die Raad op Rekeningkundige Standaarde (die Raad) vereis om algemeen erkende rekeningkundige praktyk genaamd Standaarde van Algemeen Erkende Rekenkundige Praktyk (AERP) te bepaal.

Die Raad moet AERP bepaal vir:

(a) departemente (met inbegrip van nasionale en provinsiale en regeringskomponente);

(b) openbare entiteite;

(c) handelsentiteite (soos in die WOFB omskryf);

(d) grondwetlike instellings;

(e) munisipaliteite en rade, kommissies, maatskappye, korporasies, fondse of ander entiteite onder die eienaarsbeheer van 'n munisipaliteit; en

(f) die Parlement en die provinsiale wetgewers.

Die bogenoemde word gesamentlik “entiteite” genoem.

Die Raad het die toepassing van Standpunte oor Algemeen Aanvaarde Rekeningkundige Praktyk (AARP) soos op 1 April 2012, soos dit deur die Raad op Rekeningkundige Praktyke

AERP 25

Uitgegee November 2009 8 Werknemersvoordele

gekodifiseer en deur die Suid-Afrikaanse Instituut vir Geoktrooieerde Rekenmeesters uitgegee is, goedgekeur om AERP te wees vir:

(a) staatsakeondernemings (soos in die WOFB omskryf);

(b) enige ander entiteit, uitgesonderd 'n munisipaliteit, waarvan die gewone aandele, potensiële gewone aandele of skuld openbaar op die kapitaalmarkte verhandelbaar is; en

(c) entiteite onder die eienaarsbeheer van enigeen van hierdie entiteite.

Die Raad het die toepassing van die International Financial Reporting Standards (IFRSs) wat deur die International Accounting Standards Board uitgegee is, goedgekeur om vir hierdie entiteite AERP te wees waar hulle IFRS'e toepas.

Finansiële state moet beskryf word as sou dit aan Standaarde van AERP voldoen slegs indien hulle aan al die vereistes van elke toepaslike Standaard van AERP en enige verbandhoudende Vertolkings van die Standaarde van AERP voldoen.

Enige beperking op die toepaslikheid van spesifieke Standaarde of Vertolkings word in daardie Standaarde of Vertolkings van die Standaarde van AERP duidelik gemaak.

Die Standaard van AERP word in paragraaf .01 tot .163 uiteengesit. Alle paragrawe in hierdie Standaard van AERP is ewe gesaghebbend. Die status en gesag van bylaes word in die aanhef tot elke bylae behandel. Hierdie Standaard moet gelees word in die konteks van die doelstelling daarvan, die grondslag vir gevolgtrekkings, indien toepaslik, die Voorwoord tot Standaarde van AERP, die Voorwoord tot die Vertolking van die Standaarde van AERP en die Raamwerk vir die Opstel en Aanbieding van Finansiële State.

Standaarde van AERP en Vertolkings van die Standaarde van AERP moet ook in samehang gelees word met enige lasgewings wat deur die Raad uitgegee word waarin oorgangsbepalings voorgeskryf word, asook saam met enige regulasies wat deur die Minister van Finansies uitgereik is ten opsigte van die datums van inwerkingtrede van die Standaarde van AERP, soos in die Staatskoerant gepubliseer is.

Daar kan 'n verwysing wees na 'n Standaard van AERP wat nog nie uitgegee is op die tydstip wanneer hierdie Standaard uitgegee word nie. Dit word gedoen om te vermy om die Standaarde wat reeds uitgegee is, te verander wanneer 'n latere Standaard uitgegee word. Paragraaf .11 van die Standaard van AERP oor Rekeningkundige Beleide, Veranderinge in Rekeningkundige Ramings en Foute voorsien in die afwesigheid van uitdruklike leiding 'n grondslag vir die keuse en toepassing van rekeningkundige beleide.

AERP 25

Uitgegee November 2009 9 Werknemersvoordele

Doelstelling

.01 Die doel met hierdie Standaard is om die rekeningkundige verantwoording vir en openbaarmaking van werknemersvoordele voor te skryf. Die Standaard vereis dat ʼn entiteit die volgende erken:

(a) ʼn aanspreeklikheid indien ʼn werknemer diens gelewer het in ruil vir werknemersvoordele wat in die toekoms betaal moet word; en

(b) ʼn uitgawe indien die entiteit die ekonomiese voordele of dienspotensiaal verbruik wat voortspruit uit diens wat deur ʼn werknemer gelewer is in ruil vir werknemersvoordele.

Omvang

.02 Hierdie Standaard moet deur ʼn werkgewer toegepas word in die rekeningkundige verantwoording vir alle werknemersvoordele, buiten aandeelgebaseerde betalingstransaksies (kyk die International Financial Reporting Standard on Share-based Payment), en op die aanvanklike erkenning en aanvanklike meting van bates en laste wat verkry is in ʼn oordrag van funksies tussen entiteite onder gemeenskaplike beheer (kyk die Standaard van AERP oor Oordrag van Funksies tussen Entiteite onder Gemeenskaplike Beheer) of ʼn samesmelting (kyk die Standaard van AERP oor Samesmeltings).

.03 Hierdie Standaard handel nie oor verslagdoening deur werknemeraftreevoordeelplanne nie (kyk die International Accounting Standard oor Retirement Benefit Plans). Hierdie Standaard handel ook nie oor voordele verskaf deur saamgestelde bestaansekerheidsprogramme wat nie vergoeding is in ruil vir diens wat deur werknemers of voormalige werknemers van entiteite gelewer is nie.

.04 Die werknemersvoordele waarop hierdie Standaard van toepassing is, sluit dié in wat voorsien is:

(a) ingevolge formele planne of ander formele ooreenkomste tussen ʼn entiteit en individuele werknemers, groepe werknemers of hul verteenwoordigers;

(b) kragtens wetlike vereistes, of deur bedryfsreëlings, ingevolge waarvan daar van entiteite verwag word om by te dra tot nasionale, provinsiale, plaaslike of ander multiwerkgewerplanne of waar daar van entiteite verwag word om by te dra tot die saamgestelde bestaansekerheidsprogramme; of

(c) deur daardie informele praktyke wat aanleiding gee tot ʼn afgeleide verpligting. Informele praktyke gee aanleiding tot ʼn afgeleide verpligting waar die entiteit geen realistiese alternatief het nie as om werknemersvoordele te betaal. ʼn

AERP 25

Uitgegee November 2009 10 Werknemersvoordele

Voorbeeld van ʼn afgeleide verpligting is waar ʼn verandering in die entiteit se informele praktyke onaanvaarbare skade aan sy verhouding met werknemers kan veroorsaak.

.05 Werknemersvoordele behels:

(a) korttermynwerknemersvoordele soos lone, salarisse en bestaansekerheidsbydraes, betaalde jaarlikse verlof en betaalde siekteverlof, bonus-, aansporings- en prestasieverwante betalings (indien betaalbaar binne twaalf maande van die einde van die verslagdoeningstydperk), asook nie-monetêre voordele (soos mediese sorg, behuising, motors en gratis of gesubsidieerde goedere of dienste) vir huidige werknemers;

(b) na-aftreevoordele soos pensioene, ander aftreevoordele, na-aftreelewensversekering en mediese sorg ná uitdienstreding;

(c) ander langtermynwerknemersvoordele, waarby ingesluit kan wees langdiensverlof of sabbatsverlof, ander langdiensvoordele, langtermynongeskiktheidsvoordele en, indien dit nie in die geheel betaalbaar is binne twaalf maande ná die einde van die verslagdoeningstydperk nie, bonus-, aansporings- en prestasieverwante betalings, asook uitgestelde vergoeding; en

(d) diensbeëindigingsvoordele.

Omdat elke kategorie wat in (a) tot (d) hierbo geïdentifiseer is verskillende eienskappe het, stel hierdie Standaard afsonderlike vereistes vir elke kategorie vas.

.06 Werknemersvoordele behels voordele wat óf aan werknemers óf hul afhanklikes verskaf word en by wyse van betalings vereffen kan word (of deur die voorsiening van goedere of dienste) wat óf regstreeks aan die werknemers, hul eggenote, kinders of ander afhanklikes óf aan ander entiteite soos versekeringsmaatskappye gemaak kan word.

.07 ʼn Werknemer kan dienste aan ʼn entiteit op ʼn voltydse, deeltydse, permanente, los of tydelike grondslag lewer. Vir die doel van hierdie Standaard sluit werknemers sleutelbestuurspersoneellede in soos in die Standaard van AERP oor Openbaarmakings oor Verwante Partye omskryf.

Woordomskrywings

.08 Die volgende terme word in hierdie Standaard gebruik, met die gespesifiseerde betekenisse:

Aktuariële winste en verliese wat uit die volgende bestaan:

AERP 25

Uitgegee November 2009 11 Werknemersvoordele

(a) ervaringsaansuiwerings (die uitwerking van verskille tussen die vorige aktuariële aannames en wat werklik gebeur het); en

(b) die uitwerking van veranderinge in aktuariële aannames.

Bates gehou deur 'n langtermyn-werknemersvoordeelfonds is bates (buiten nie-oordraagbare finansiële instrumente wat deur die verslagdoenende entiteit uitgegee is) wat:

(a) deur ʼn entiteit (ʼn fonds) gehou word wat wetlik afsonderlik van die verslagdoenende entiteit is en alleenlik bestaan om werknemersvoordele te betaal of te befonds; en

(b) wat beskikbaar is om gebruik te word slegs om werknemersvoordele te betaal of te befonds, nie vir die verslagdoenende entiteit se eie krediteure beskikbaar is nie (selfs in likwidasie), en nie na die verslagdoenende entiteit kan teruggaan nie, tensy:

(i) óf die oorblywende bates van die fonds toereikend is om al die verbandhoudende werknemersvoordeelverpligtinge van die plan of die verslagdoenende entiteit na te kom;

(ii) óf die bates na die verslagdoenende entiteit teruggaan om hom te vergoed vir werknemersvoordele wat reeds betaal is.

Saamgestelde bestaansekerheidsprogramme wat deur wetgewing tot stand gekom het; en

(a) as multiwerkgewerplanne funksioneer om na-aftreevoordele te voorsien; asook om

(b) voordele te voorsien wat nie beskou word in ruil te wees vir diens wat deur werknemers gelewer is nie.

Huidigedienskoste is die styging in die huidige waarde van die omskrewevoordeelverpligting wat ontstaan uit werknemersdiens gedurende die huidige tydperk.

Omskrewevoordeelplanne is na-aftreevoordeelplanne buiten omskrewebydrae-planne.

Omskrewebydraeplanne is na-aftreevoordeelplanne ingevolge waarvan ʼn entiteit vaste bydraes in ʼn afsonderlike entiteit (ʼn fonds) inbetaal en geen wetlike of afgeleide verpligting sal hê om verdere bydraes te betaal indien die fonds nie toereikende bates hou om alle werknemersvoordele met betrekking tot werknemersdiens in die huidige en vorige tydperke te betaal nie.

AERP 25

Uitgegee November 2009 12 Werknemersvoordele

Werknemersvoordele is alle vorme van teenprestasie wat deur ʼn entiteit gegee word in ruil vir diens wat deur werknemers gelewer word.

Rentekoste is die styging gedurende ʼn tydperk in die huidige waarde van ʼn omskrewevoordeelverpligting wat ontstaan omdat die voordele een tydperk nader aan vereffening is.

Multiwerkgewerplanne is omskrewebydraeplanne (buiten staatsplanne en saamgestelde bestaansekerheidsprogramme) of omskrewevoordeelplanne (buiten staatsplanne) wat:

(a) die bates saampoel wat bygedra word deur verskeie entiteite wat nie onder gemeenskaplike beheer is nie; en

(b) daardie bates gebruik om voordele aan werknemers van meer as een entiteit te voorsien, op die grondslag dat bydrae- en voordeelvlakke bepaal word sonder inagneming van die identiteit van die entiteit wat die betrokke werknemers in diens het.

Ander langtermyn-werknemersvoordele is werknemersvoordele (buiten na-aftreevoordele en diensbeëindigingsvoordele) wat nie verskuldig is vir vereffening binne twaalf maande ná die einde van die tydperk waarin die werknemers die verbandhoudende diens lewer nie.

Vorigedienskoste is die verandering in die huidige waarde van die omskrewevoordeelverpligting vir werknemersdiens in vorige tydperke wat in die huidige tydperk ontstaan as gevolg van die instelling van, of veranderinge aan, na-aftreevoordele of ander langtermyn-werknemersvoordele. Vorigedienskoste kan óf positief wees (indien voordele ingestel of verander word sodat die huidige waarde van die omskrewevoordeelverpligting toeneem) óf negatief (indien bestaande voordele verander word sodat die huidige waarde van die omskrewevoordeelverpligting afneem).

Planbates bestaan uit:

(a) bates gehou deur ʼn langtermyn-werknemersvoordeelfonds; en

(b) kwalifiserende versekeringspolisse.

Na-aftreevoordele is werknemersvoordele (buiten diensbeëindigingsvoordele) wat ná die voltooiing van die diens betaalbaar is.

Na-aftreevoordeelplanne is formele of informele reëlings ingevolge waarvan ʼn entiteit na-aftreevoordele aan een of meer werknemers voorsien.

AERP 25

Uitgegee November 2009 13 Werknemersvoordele

Die huidige waarde van 'n omskrewevoordeelverpligting is die huidige waarde, sonder aftrekking van enige planbates, van verwagte toekomstige betalings wat vereis word om die verpligting te vereffen wat uit werknemersdiens in die huidige en vorige tydperke voortspruit.

ʼn Kwalifiserende versekeringspolis is ʼn versekeringspolis uitgegee deur ʼn versekeraar wat nie ʼn verwante party (soos omskryf in die Standaard van AERP oor Openbaarmakings oor Verwante Partye) van die verslagdoenende entiteit is nie, indien die opbrengs van die polis:

(a) slegs gebruik kan word om werknemersvoordele ooreenkomstig ʼn omskrewevoordeelplan te betaal of te befonds; en

(b) nie beskikbaar is vir die verslagdoenende entiteit se eie krediteure nie (selfs in likwidasie) en nie aan die verslagdoenende entiteit betaal kan word nie, tensy:

(i) óf die opbrengs surplusbates verteenwoordig wat nie nodig is vir die polis om al die verbandhoudende werknemersvoordeelverpligtinge na te kom nie;

(ii) óf die opbrengs aan die verslagdoenende entiteit terugbetaal word om hom te vergoed vir werknemersvoordele wat reeds betaal is.

Die opbrengs op planbates is rente, dividende of ander soortgelyke uitkerings en ander inkomste verkry uit die planbates, tesame met gerealiseerde en ongerealiseerde winste of verliese op die planbates, minus enige koste van die administrasie van die plan (buiten dié wat in die aktuariële aannames ingesluit is wat gebruik is om die omskrewevoordeelverpligting te meet), en minus enige belasting wat deur die plan self betaalbaar is.

Korttermynwerknemersvoordele is werknemersvoordele (buiten diensbeëindigingsvoordele) wat verskuldig is vir vereffening binne twaalf maande ná die einde van die tydperk waarin die werknemers die verbandhoudende diens lewer.

Staatsplanne is planne met die uitsondering van saamgestelde programme vir bestaansekerheid wat deur wetgewing tot stand gebring is en funksioneer asof hulle multiwerkgewerplanne is vir alle entiteite in ekonomiese kategorieë wat deur wetgewing bepaal word.

’n Kwalifiserende versekeringspolis is nie noodwendig ‘n versekeringskontrak nie. (Kyk die International Financial

Reporting Standard oor Insurance Contracts.)

AERP 25

Uitgegee November 2009 14 Werknemersvoordele

Diensbeëindigingsvoordele is werknemersvoordele wat betaalbaar is as gevolg van hetsy:

(a) ʼn entiteit se besluit om ʼn werknemer se diens voor die normale aftreedatum te beëindig; of

(b) ʼn werknemer se besluit om vrywillige oortolligheid in ruil vir sodanige voordele te aanvaar.

Gevestigde werknemersvoordele are is werknemersvoordele wat nie van toekomstige diens afhanklik is nie.

Terme wat in ander Standaarde van AERP omskryf word, word in hierdie Standaard met dieselfde betekenis as in daardie ander Standaarde van AERP gebruik.

Korttermynwerknemersvoordele

.09 Korttermynwerknemersvoordele bestaan uit items soos:

(a) lone, salarisse en bestaansekerheidsbydraes;

(b) vergoeding vir korttermynafwesigheid (soos betaalde jaarlikse verlof en betaalde siekteverlof) waar die vergoeding vir die afwesighede betaal moet word binne twaalf maande ná die einde van die verslagdoeningstydperk waarin die werknemers die betrokke werknemersdiens lewer;

(c) bonus-, aansporings- en prestasieverwante betalings wat betaalbaar is binne twaalf maande ná die einde van die verslagdoeningstydperk waarin die werknemers die betrokke diens lewer; en

(d) nie-monetêre voordele (byvoorbeeld mediese sorg en gratis of gesubsidieerde goedere of dienste soos behuising, motors en selfone) vir huidige werknemers.

.10 Die in rekening bring van korttermynwerknemersvoordele is in die reël eenvoudig omdat geen aktuariële veronderstellings vereis word om die verpligting of die koste te meet nie en daar geen moontlikheid van enige aktuariële wins of verlies bestaan nie. Buitendien word korttermynwerknemersvoordeel-verpligtinge op ʼn ongediskonteerde grondslag gemeet.

Erkenning en meting

Alle korttermynwerknemersvoordele

.11 Indien ʼn werknemer gedurende ʼn verslagdoeningstydperk diens aan ʼn entiteit gelewer het, moet die entiteit die ongediskonteerde bedrag van

AERP 25

Uitgegee November 2009 15 Werknemersvoordele

korttermynwerknemersvoordele wat na verwagting in ruil vir daardie diens betaal sal word, erken:

(a) as ʼn las (opgeloopte uitgawe), ná aftrekking van enige bedrag wat reeds betaal is. As die bedrag wat reeds betaal is die ongediskonteerde bedrag van die voordele oorskry, moet ʼn entiteit daardie oorskryding as ʼn bate erken (voorafbetaalde uitgawe) in die mate waarin die vooruitbetaling tot byvoorbeeld ʼn vermindering in toekomstige betalings of ʼn kontantterugbetaling kan lei; en

(b) as ʼn uitgawe, tensy 'n ander Standaard die insluiting van die voordele in die koste van ʼn bate vereis of toelaat (kyk byvoorbeeld die Standaarde van AERP oor Voorraad, Eiendom, Aanleg en Toerusting, Ontasbare Bates en Erfenisbates).

Paragraaf .12, .15 en .18 verduidelik hoe ʼn entiteit hierdie vereiste op korttermynwerknemersvoordele in die vorm van vergoede afwesighede asook bonus-, aansporings- en prestasieverwante betalings moet toepas.

Vergoede korttermynafwesigheid

.12 ʼn Entiteit moet die verwagte koste van korttermynwerknemersvoordele in die vorm van vergoede afwesighede ingevolge paragraaf .11 soos volg erken:

(a) in die geval van oplopende vergoede afwesighede, indien die werknemers diens lewer wat hul geregtigdheid op toekomstige vergoede afwesighede verhoog; en

(b) in die geval van nie-oplopende vergoede afwesighede, indien die

afwesighede plaasvind.

.13 ʼn Entiteit kan werknemers om verskeie redes vergoed vir afwesigheid, met inbegrip van jaarlikse verlof, siekteverlof, korttermynongeskiktheids- en kraam- of vaderskapsverlof. Geregtigdheid op vergoede afwesighede val in twee kategorieë:

(a) oplopend; en

(b) nie-oplopend.

.14 Oplopende vergoede afwesighede is dié wat oorgedra word en in toekomstige tydperke gebruik kan word as die huidige tydperk se geregtigdheid nie ten volle benut word nie. Oplopende vergoede afwesighede kan óf gevestig wees (met ander woorde, werknemers is geregtig op ʼn kontantbetaling vir ongebruikte geregtigdheid indien hulle die entiteit verlaat) óf niegevestig (indien werknemers nie op ʼn kontantbetaling vir ongebruikte geregtigdheid geregtig is nie). ʼn Verpligting ontstaan as werknemers diens lewer wat hul geregtigdheid op toekomstige vergoede afwesighede verhoog. Die

AERP 25

Uitgegee November 2009 16 Werknemersvoordele

verpligting bestaan, en word erken, selfs as die vergoede afwesighede niegevestig is, hoewel die moontlikheid dat werknemers die diens kan verlaat voordat hulle ʼn opgeloopte niegevestigde geregtigdheid gebruik, die meting van daardie verpligting affekteer.

.15 ʼn Entiteit moet die verwagte koste van oplopende vergoede afwesighede meet as die bykomende bedrag wat die entiteit verwag om te betaal as gevolg van die ongebruikte geregtigdheid wat op die verslagdoeningsdatum opgeloop het.

.16 Die metode wat in paragraaf .15 gespesifiseer word, meet die verpligting teen die bedrag van die bykomende betalings wat na verwagting sal ontstaan bloot vanweë die feit dat die voordeel ophoop. In baie gevalle hoef ʼn entiteit waarskynlik nie gedetailleerde berekenings te maak om te raam dat daar geen wesenlike verpligting bestaan vir ongebruikte vergoede afwesighede nie. ʼn Siekteverlofverpligting sal byvoorbeeld waarskynlik wesenlik wees slegs as daar ʼn formele of informele verstandhouding bestaan dat ongebruikte betaalde siekteverlof as betaalde jaarlikse verlof geneem mag word.

.17 Nie-oplopende vergoede afwesighede dra nie oor nie: hulle verval as die huidige verslagdoeningstydperk se geregtigdheid nie volledig gebruik word nie en maak werknemers nie geregtig op ʼn kontantbetaling vir ongebruikte geregtigdheid indien die entiteit verlaat word nie. Dit is algemeen die geval vir siekteverlof (in die mate waarin ongebruikte vorige geregtigdheid nie toekomstige geregtigdheid vermeerder nie), asook kraam- of vaderskapverlof. ʼn Entiteit erken geen aanspreeklikheid of uitgawe nie totdat die afwesigheid plaasvind, omdat werknemersdiens nie die bedrag van die voordeel verhoog nie.

Bonus-, aansporings- en prestasieverwante betalings

.18 ʼn Entiteit moet die verwagte koste van bonus-, aansporings- en prestasieverwante betalings ingevolge paragraaf .11 erken indien, en slegs indien:

(a) die entiteit ʼn huidige regs- of afgeleide verpligting het om sodanige betalings te maak op grond van vorige gebeure; en

(b) ʼn betroubare raming gemaak kan word van die verpligting.

ʼn Huidige verpligting bestaan indien, en slegs indien, die entiteit geen realistiese alternatief het as om die betalings te maak nie.

AERP 25

Uitgegee November 2009 17 Werknemersvoordele

.19 In die openbare sektor het sommige entiteite aansporingsplanne wat verwant is aan diensleweringsdoelwitte of aspekte van finansiële prestasie. Ingevolge sulke planne ontvang werknemers gespesifiseerde bedrae na gelang van ʼn evaluering van hul bydrae tot die bereiking van die doelwitte van die entiteit of ʼn segment van die entiteit. In sommige gevalle kan sulke planne op groepe werknemers gerig wees, soos wanneer prestasie geëvalueer word vir alle of sommige werknemers in ʼn bepaalde segment, eerder as op ʼn individuele grondslag. Sommige openbaresektorentiteite kan prestasie aan die hand van finansieel gebaseerde maatstawwe soos die generering van inkomstestrome en die bereiking van begrotingsteikens evalueer. Sommige aansporingsplanne kan betalings aan alle werknemers behels wat in ʼn verslagdoeningstydperk diens gelewer het, selfs al het hulle die entiteit voor die verslagdoeningsdatum verlaat. Ingevolge ander aansporingsplanne ontvang werknemers egter slegs betalings as hulle vir ʼn bepaalde tydperk aan die entiteit verbonde bly, byvoorbeeld ʼn vereiste dat werknemers vir die volle verslagdoeningstydperk dienste lewer. Sulke planne skep ʼn afgeleide verpligting aangesien werknemers diens lewer wat die bedrag wat betaal moet word indien hulle tot die einde van die bepaalde tydperk in diens bly, verhoog. Die meting van sodanige afgeleide verpligtinge weerspieël die moontlikheid dat sommige werknemers diens kan verlaat sonder om aansporings- en prestasieverwante betalings te ontvang. Paragraaf .21 bevat verdere voorwaardes waaraan voldoen moet word voordat ʼn entiteit die verwagte koste van aansporings- en prestasieverwante betalings erken.

.20 ʼn Entiteit kan moontlik geen regsverpligting hê om ʼn bonus of aansporing te betaal nie. Desnieteenstaande kan ʼn entiteit in sommige gevalle ʼn praktyk van die betaling van bonusse of aansporings hê. In sulke gevalle het die entiteit ʼn afgeleide verpligting omdat die entiteit geen realistiese alternatief het nie as om die bonus of aansporing te betaal. Die meting van die afgeleide verpligtinge weerspieël die moontlikheid dat sommige werknemers die diens kan verlaat sonder om ʼn bonus of aansporing te ontvang.

.21 ʼn Entiteit kan ʼn betroubare raming van sy wetlike of afgeleide verpligting ingevolge ʼn bonus-, aansporings- en prestasieverwante betalingskema maak indien, en slegs indien:

(a) die formele bepalings van die plan ʼn formule bevat vir die vastelling van die bedrag van die voordeel;

(b) die entiteit die bedrae wat betaal moet word, vasstel voordat die finansiële state vir uitreiking goedgekeur word; of

(c) vorige praktyk duidelike bewyse lewer van die bedrag van die entiteit se afgeleide verpligting.

AERP 25

Uitgegee November 2009 18 Werknemersvoordele

.22 ʼn Verpligting ingevolge bonus-, aansporings- en prestasieverwante planne spruit voort uit werknemerdiens en word in surplus of tekort as ʼn uitgawe erken.

.23 As bonus-, aansporings- en prestasieverwante betalings nie ten volle betaalbaar is binne twaalf maande ná die einde van die verslagdoeningstydperk waarin die werknemers die betrokke diens lewer nie, is daardie betalings ander langtermynwerknemersvoordele (kyk paragraaf .142 tot .147).

Voorbeeld wat paragraaf .18 tot .23 toelig: Die in rekening bring van ʼn aansporingskema

ʼn Entiteit bedryf ʼn aansporingskema vir sy werknemers soos volg:

25% van elke werknemer se koste vir die entiteit kan as ʼn aansporing betaal word.

7,5% van die 25% word outomaties betaal aan daardie individue wat vir ʼn volle finansiële jaar in diens was.

17,5% van die 25% word aan werknemers betaal op grond van die beoordeling van hul individuele prestasie.

Die entiteit erken ʼn uitgawe en ʼn las vir die getal werknemers wat na verwagting ʼn volle jaar se diens sal voltooi op grond van die 7,5% van hul koste vir die entiteit.

Sodra ʼn entiteit elke individu se prestasie beoordeel het, erken hy ʼn uitgawe en ʼn las vir die prestasiekomponent van die aansporingsplan op grond van die aanslag van elke individu vermenigvuldig met 17,5% van hul onderskeie kostes vir die entiteit.

Openbaarmaking

.24 Hoewel hierdie Standaard nie spesifieke openbaarmakings oor korttermynwerknemersvoordele vereis nie, kan ander Standaarde openbaarmakings voorskryf. Die Standaard van AERP oor Openbaarmakings oor Verwante Partye vereis byvoorbeeld openbaarmakings van die totale vergoeding van sleutelbestuurspersoneel terwyl die Standaard van AERP oor Aanbieding van Finansiële State die openbaarmaking van inligting oor werknemersvoordele vereis.

Na-aftreevoordele: Onderskeid tussen omskrewebydraeplanne en omskrewevoordeelplanne

.25 Na-aftreevoordele bestaan byvoorbeeld uit:

(a) aftreevoordele, soos pensioene; en

AERP 25

Uitgegee November 2009 19 Werknemersvoordele

(b) ander na-aftreevoordele soos na-aftreelewensversekering en mediese sorg ná uitdienstreding.

Reëlings ingevolge waarvan ʼn entiteit na-aftreevoordele verskaf, is na-aftreevoordeleplanne. ʼn Entiteit pas hierdie Standaard toe op alle sodanige reëlings soos ʼn pensioenskema of aftreevoordeelskema om bydraes te ontvang en voordele te betaal, of hulle die totstandbrenging van ʼn afsonderlike entiteit behels al dan nie.

.26 Na-aftreevoordeleplanne word geklassifiseer as óf omskrewebydraeplanne óf omskrewevoordeelplanne, na gelang van die ekonomiese wese van die plan soos afgelei uit die hoofbepalings en -voorwaardes daarvan. Ten einde geklassifiseer te kan wees as ʼn omskrewebydraeplan moet ʼn na-aftreevoordeelplan aan die entiteit voorskryf om vaste bydraes in ʼn afsonderlike entiteit in te betaal. Ingevolge omskrewebydraeplanne:

(a) is die entiteit se wetlike of afgeleide verpligting beperk tot die bedrag wat hy ooreenkom om tot die fonds by te dra. Gevolglik word die bedrag van die na-aftreevoordele wat deur die werknemer ontvang word, bepaal deur die bedrag van bydraes wat deur ʼn entiteit (en miskien ook die werknemer) aan ʼn na-aftreevoordeelplan of aan ʼn versekeringsmaatskappy betaal word, tesame met die opbrengs op beleggings wat uit die bydraes voortspruit; en

(b) rus die aktuariële risiko (dat voordele minder sal wees as wat verwag is) en beleggingsrisiko (dat bates wat belê is, onvoldoende sal wees om die verwagte voordele op te lewer) gevolglik op die werknemer.

.27 Voorbeelde van gevalle waar ʼn entiteit se verpligting nie beperk is tot die bedrag wat hy ooreenkom het om tot die fonds by te dra nie, is wanneer die entiteit ʼn wetlike of afgeleide verpligting het deur:

(a) ʼn planvoordeelformule wat nie bloot aan die bedrag van bydraes gekoppel is nie;

(b) ʼn waarborg, hetsy onregstreeks deur ʼn plan of regstreeks, van ʼn gespesifiseerde opbrengs op bydraes; of

(c) daardie informele praktyke wat aanleiding gee tot ʼn afgeleide verpligting. ʼn Afgeleide verpligting kan byvoorbeeld ontstaan waar ʼn entiteit ʼn geskiedenis het van die verhoging van voordele vir voormalige werknemers om tred te hou met inflasie selfs waar daar geen regsverpligting bestaan om dit te doen nie.

.28 Ingevolge omskrewevoordeelplanne:

(a) is die entiteit verplig om die ooreengekome voordele aan die huidige en voormalige werknemers te voorsien; en

(b) rus aktuariële risiko (dat voordele meer sal kos as wat verwag is) en beleggingsrisiko in wese op die entiteit. Indien die aktuariële of

AERP 25

Uitgegee November 2009 20 Werknemersvoordele

beleggingservaring slegter is as wat verwag is, kan die entiteit se verpligting verhoog word.

.29 Anders as in die geval van omskrewebydraeplanne vereis die omskrywing van ʼn omskrewevoordeelplan nie die betaling van bydraes aan ʼn afsonderlike entiteit nie. Paragraaf .30–.51 hier onder verduidelik die onderskeid tussen omskrewebydraeplanne en omskrewevoordeelplanne in die konteks van multiwerkgewerplanne, staatsplanne, saamgestelde bestaansekerheidsprogramme en versekerde voordele.

Multiwerkgewerplanne

.30 ʼn Entiteit moet ʼn multiwerkgewerplan as ʼn omskrewebydraeplan of ʼn omskrewevoordeelplan klassifiseer ingevolge die bepalings van die plan (met inbegrip van enige afgeleide verpligting wat verder as die formele bepalings gaan). Waar ʼn multiwerkgewerplan ʼn omskrewevoordeelplan is, moet ʼn entiteit:

(a) sy proporsionele gedeelte van die omskrewevoordeelverpligting, planbates en koste wat met die plan geassosieer word op dieselfde manier in rekening bring as vir enige ander omskrewevoordeelplan; en

(b) die inligting wat deur paragraaf .136 vereis word, openbaar maak.

.31 Indien voldoende inligting nie beskikbaar is om omskrewevoordeel-rekeningkunde vir ʼn multiwerkgewerplan te gebruik wat ʼn omskrewevoordeelplan is nie, moet ʼn entiteit:

(a) die plan ingevolge paragraaf .53 tot .55 in rekening bring asof dit ʼn omskrewebydraeplan is;

(b) die volgende openbaar maak:

(i) die feit dat die plan ʼn omskrewevoordeelplan is; en

(ii) die rede waarom voldoende inligting nie beskikbaar is om die entiteit in staat te stel om die plan as ʼn omskrewevoordeelplan in rekening te bring nie; en

(c) daarbenewens, in die mate waarin ʼn surplus of tekort in die plan die bedrag van toekomstige bydraes kan beïnvloed, die volgende openbaar maak:

(i) enige beskikbare inligting oor daardie surplus of tekort;

(ii) die grondslag wat gebruik word om daardie surplus of tekort vas te stel; en

(iii) die implikasies, indien daar is, vir die entiteit.

.32 Een voorbeeld van ʼn omskrewevoordeel-multiwerkgewerplan is waar:

AERP 25

Uitgegee November 2009 21 Werknemersvoordele

(a) die plan op ʼn lopende-uitbetaalgrondslag gefinansier word sodat bydraes van werkgewers en/of werknemers op so ʼn vlak gestel word dat dit na verwagting voldoende sal wees om die voordele te betaal wat in dieselfde tydperk betaalbaar is; en toekomstige voordele wat gedurende die huidige tydperk verdien word, uit toekomstige bydraes betaal sal word; en

(b) werknemers se voordele deur die lengte van hul diens bepaal word en die deelnemende entiteite oor geen realistiese middele beskik om die plan terug te trek sonder om ʼn bydrae te betaal vir die voordele wat werknemers tot op die datum van hul onttrekking verdien het nie.

So ʼn plan skep aktuariële risiko vir die entiteit: Indien die uiteindelike koste van voordele wat reeds op die verslagdoeningsdatum verdien is, meer as verwag is, sal die entiteit óf sy bydraes moet verhoog óf werknemers moet oorreed om ʼn vermindering in voordele te aanvaar. Derhalwe is so ʼn plan ʼn omskrewevoordeelplan.

.33 Waar voldoende inligting beskikbaar is oor ʼn multiwerkgewerplan wat ʼn omskrewevoordeelplan is, bring ʼn entiteit die proporsionele gedeelte van die omskrewevoordeelverpligting, planbates en na-aftreevoordeelkoste wat met die plan verband hou op dieselfde manier as vir enige ander omskrewevoordeelplan in rekening. Daar kan egter gevalle wees waar ʼn entiteit nie in staat is om sy deel van die onderliggende finansiële stand en prestasie van die plan vir rekeningkundige doeleindes met voldoende betroubaarheid te identifiseer nie. Dit kan gebeur indien:

(a) die entiteit nie toegang het tot inligting oor die plan wat aan die vereistes van hierdie Standaard voldoen nie; of

(b) die plan die deelnemende entiteite blootstel aan aktuariële risiko’s wat met die huidige en voormalige werknemers van ander entiteite verband hou, met die gevolg dat daar geen konsekwente en betroubare grondslag bestaan vir die toewysing van die verpligting, planbates en koste vir individuele entiteite wat aan die plan deelneem nie.

In daardie gevalle bring ʼn entiteit die plan in rekening asof dit ’n omskrewebydraeplan is en maak die bykomende inligting openbaar wat deur paragraaf .31 vereis word.

.34 Daar kan ʼn kontraktuele ooreenkoms, ʼn bindende reëling of verklaarde beleid tussen die multiwerkgewerplan en die deelnemende entiteite wees wat bepaal hoe die surplus in die plan aan die deelnemende entiteite uitgekeer moet word (of die tekort befonds moet word). ʼn Deelnemer aan ʼn multiwerkgewerplan met sodanige reëling wat die plan ooreenkomstig paragraaf .31 as ʼn omskrewebydraeplan in rekening bring, erken die bate of las wat uit die kontraktuele ooreenkoms, bindende reëling of verklaarde beleid en die gevolglike inkomste of uitgawe in surplus of tekort voortspruit.

AERP 25

Uitgegee November 2009 22 Werknemersvoordele

Voorbeeld wat paragraaf .34 toelig: Die in rekening bring van ʼn multiwerkgewerplan

Naas soortgelyke entiteite in provinsie X neem munisipaliteit A deel aan 'n multiwerkgewer-omskrewevoordeelplan. Omdat die plan die deelnemende entiteite blootstel aan aktuariële risiko’s wat geassosieer word met die huidige en voormalige werknemers van ander munisipaliteite wat aan die plan deelneem, bestaan daar geen konsekwente en betroubare grondslag vir die toewysing van die verpligting, planbates en koste vir individuele munisipaliteite wat aan die plan deelneem nie. Munisipaliteit A bring derhalwe die plan in rekening asof dit ʼn omskrewebydraeplan is. ʼn Befondsingswaardasie wat nie opgetrek is op grond van veronderstellings wat met die vereistes van hierdie Standaard versoenbaar is nie, toon ʼn tekort van R480 miljoen in die plan. Die plan het ingevolge ʼn bindende ooreenkoms met die deelnemende werkgewers in die plan ooreengekom oor ʼn skedule van bydraes wat die tekort oor die volgende vyf jaar sal uitskakel. Munisipaliteit A se totale bydraes ingevolge die reëling is R40 miljoen.

Die entiteit erken ʼn las vir die bydraes wat aangesuiwer is vir die tydwaarde van geld en ʼn gelyke uitgawe in surplus of tekort.

.35 Die Standaard van AERP oor Voorsienings, Voorwaardelike Aanspreeklikhede en Voorwaardelike Bates vereis dat ʼn entiteit inligting oor sommige voorwaardelike aanspreeklikhede openbaar maak. In die konteks van ʼn multiwerkgewerplan kan ʼn voorwaardelike aanspreeklikheid ontstaan uit byvoorbeeld:

(a) aktuariële verliese met betrekking tot ander deelnemende entiteite omdat elke entiteit wat aan ʼn multiwerkgewerplan deelneem, in die aktuariële risiko’s van elke ander deelnemende entiteit deel; of

(b) enige verpligting ingevolge die bepalings van ʼn plan om ʼn tekort in die plan te finansier indien ander entiteite ophou om deel te neem.

.36 Multiwerkgewerplanne is duidelik onderskeibaar van groepadministrasieplanne. ʼn Groepadministrasieplan is bloot ʼn samevoeging van enkelwerkgewerplanne wat gekombineer is om deelnemende werkgewers toe te laat om hul bates vir beleggingsdoeleindes te poel en beleggingsbestuurs- en administratiewe koste te verminder, terwyl die eise van verskillende werkgewers vir die uitsluitlike voordeel van hul eie werknemers uitmekaargehou word. Groepadministrasieplanne hou geen besondere rekeningkundige probleme in nie omdat inligting geredelik beskikbaar is om hulle op dieselfde manier te hanteer as enige ander enkelwerkgewerplan en omdat sulke planne nie die deelnemende entiteite blootstel aan aktuariële risiko’s wat met die huidige en voormalige werknemers van ander entiteite verband hou nie. Die woordomskrywings in hierdie Standaard vereis dat ʼn entiteit ʼn groepadministrasieplan

AERP 25

Uitgegee November 2009 23 Werknemersvoordele

(met inbegrip van enige afgeleide verpligting wat verder gaan as die formele bepalings) ooreenkomstig die bepalings van die plan as ʼn omskrewebydraeplan of ʼn omskrewevoordeelplan klassifiseer.

Omskrewevoordeelplanne waar die deelnemende entiteite onder gemeenskaplike beheer is

.37 Omskrewevoordeelplanne wat risiko’s tussen verskillende entiteite onder gemeenskaplike beheer deel, byvoorbeeld beherende en beheerde entiteite, is nie multiwerkgewerplanne nie.

.38 ʼn Entiteit wat aan so ʼn plan deelneem, verkry inligting oor die plan in die geheel gemeet ooreenkomstig hierdie Standaard op grond van veronderstellings wat op die plan in die geheel van toepassing is. Indien daar ʼn kontraktuele ooreenkoms, bindende reëling, of verklaarde beleid vir die debitering van die netto omskrewevoordeelkoste vir die plan in die geheel, gemeet ooreenkomstig hierdie Standaard, teen individuele entiteite binne die ekonomiese entiteit bestaan, moet die entiteit die netto omskrewevoordeelkoste wat gehef word, in sy afsonderlike of individuele finansiële state erken. Indien daar geen sodanige ooreenkoms, reëling of beleid bestaan nie, moet die netto omskrewevoordeelkoste erken word in die afsonderlike of individuele finansiële state van die entiteit wat regtens die borgwerkgewer vir die plan is. Die ander entiteite moet in hul afsonderlike of individuele finansiële state ʼn koste erken wat gelyk is aan hul bydrae wat vir die verslagdoeningstydperk betaalbaar is.

.39 Daar is gevalle in die openbare sektor waar ʼn beherende entiteit en een of meer beheerde entiteite aan ʼn omskrewevoordeelplan deelneem. Tensy daar ʼn kontraktuele ooreenkoms, bindende reëling of verklaarde beleid bestaan, soos in paragraaf .38 gespesifiseer word, doen die beheerde entiteit op ʼn omskrewebydraegrondslag en die beherende entiteit op ʼn omskrewevoordeelgrondslag in die gekonsolideerde finansiële state rekeningkundige verantwoording. Die beheerde entiteit maak ook in sy afsonderlike finansiële state openbaar dat hy rekeningkudige verantwoording op ʼn omskrewebydraegrondslag doen. ʼn Beheerde entiteit wat op ʼn omskrewebydraegrondslag rekeningkudige verantwoording doen, verskaf ook besonderhede van die beherende entiteit, en toon aan dat rekeningkundige verantwoording in die beherende entiteit se gekonsolideerde finansiële state op ʼn omskrewevoordeelgrondslag geskied. Die beheerde entiteit maak ook die inligting openbaar soos in paragraaf .40 vereis word

.40 Deelname aan so ʼn plan is ʼn verwantepartytransaksie vir elke individuele entiteit. ʼn Entiteit moet derhalwe in sy afsonderlike of individuele finansiële state die volgende openbaar maak:

AERP 25

Uitgegee November 2009 24 Werknemersvoordele

(a) Die kontraktuele ooreenkoms, bindende reëling of verklaarde beleid vir die debitering van die netto omskrewevoordeelkoste of die feit dat daar geen sodanige beleid bestaan nie.

(b) Die beleid vir die vasstelling van die bydrae wat deur die entiteit betaal moet word.

(c) Indien die entiteit ʼn toedeling van die netto omskrewevoordeelkoste ooreenkomstig paragraaf .38 in rekening bring, al die inligting oor die plan in die geheel ooreenkomstig paragraaf .135 tot .137.

(d) Indien die entiteit die bydrae wat vir die verslagdoeningstydperk betaalbaar

is, ooreenkomstig paragraaf .38 in rekening bring, die inligting oor die plan in die geheel wat ooreenkomstig paragraaf .136(a) tot (d), (k), (l), en (n) en .137

vereis word. Die ander openbaarmakings wat deur paragraaf .136 vereis word, is nie van toepassing nie.

Staatsplanne

.41 ʼn Entiteit moet na-aftreevoordele ingevolge staatsplanne op dieselfde manier in rekening bring as vir ʼn multiwerkgewerplan (kyk paragraaf .30 en .31).

.42 Staatsplanne word deur wetgewing tot stand gebring om alle entiteite (of alle entiteite in ʼn bepaalde kategorie, byvoorbeeld ʼn spesifieke bedryf) te dek en word deur nasionale, provinsiale of plaaslike regering of deur ʼn ander liggaam (byvoorbeeld ʼn agentskap wat spesifiek vir daardie doel tot stand gebring is) bedryf. Hierdie Standaard handel slegs met werknemersvoordele van die entiteit en gee nie aandag aan rekeningkundige verantwoording vir enige verpligtinge ingevolge staatsplanne met betrekking tot werknemers en vorige werknemers van entiteite wat nie deur die verslagdoenende entiteit beheer word nie. Hoewel die staat staatsplanne kan tot stand bring en voordele aan werknemers van privaatsektorentiteite en/of individue in eie diens kan voorsien, word verpligtinge wat ten opsigte van sulke planne ontstaan, nie in hierdie Standaard behandel nie.

.43 Baie staatsplanne word op ʼn lopende-uitbetaalgrondslag befonds: bydraes word op so ʼn vlak gestel dat dit na verwagting voldoende sal wees om die verlangde voordele te betaal wat in dieselfde tydperk betaalbaar is; toekomstige voordele wat gedurende die huidige tydperk verdien word, sal uit toekomstige bydraes betaal word. Entiteite wat deur staatsplanne gedek word, verantwoord daardie planne rekeningkundig as óf omskrewebydrae- óf omskrewevoordeelplanne. Die rekeningkundige hantering hang daarvan af of die entiteit ʼn wetlike of afgeleide verpligting het om toekomstige voordele te betaal. Indien ʼn entiteit se enigste verpligting is om die bydraes te betaal wanneer hulle betaalbaar word en die entiteit geen verpligting het om toekomstige voordele te betaal nie, bring hy daardie staatsplan as ʼn omskrewebydraeplan in rekening.

AERP 25

Uitgegee November 2009 25 Werknemersvoordele

.44 ʼn Staatsplan kan deur ʼn beheerde entiteit as ʼn omskrewebydraeplan geklassifiseer word. Daar is egter ʼn weerlegbare vermoede dat die staatsplan deur die beherende entiteit as ʼn omskrewevoordeelplan beskryf sal word. Waar daardie vermoede weerlê word, word die staatsplan as ʼn omskrewebydraeplan in rekening gebring.

Saamgestelde bestaansekerheidsprogramme

.45 ʼn Verslagdoenende entiteit moet na-aftreevoordele ingevolge saamgestelde bestaansekerheidsprogramme op dieselfde manier in rekening bring as vir ʼn multiwerkgewerplan (kyk paragraaf .30 en .31).

.46 Saamgestelde bestaansekerheidsprogramme word deur wetgewing tot stand gebring en bied voordele aan individue wat aan bepaalde maatstawwe voldoen het. Sodanige maatstawwe behels ʼn vereiste dat ʼn individu ʼn aftreeouderdom bereik het wat in wetgewing voorgeskryf is. Daar kan ook ander maatstawwe wees wat verband hou met faktore soos inkomste en persoonlike welvaart. Saamgestelde bestaansekerheidsprogramme kan ook werk om voordele te voorsien as vergoeding in ruil vir dienste wat deur individue gelewer is. Hierdie Standaard gee slegs aandag aan verpligtinge in saamgestelde bestaansekerheidsprogramme wat ontstaan as vergoeding in ruil vir diens gelewer deur werknemers en voormalige werknemers van die verslagdoenende entiteit. Hierdie Standaard vereis dat ʼn verslagdoenende entiteit rekenskap gee van verpligtinge vir werknemersvoordele wat ingevolge saamgestelde bestaansekerheidsprogramme soos vir ʼn multiwerkgewerplan ooreenkomstig paragraaf .30 en .31 ontstaan.

.47 Vir ʼn ekonomiese entiteit soos die regering in die geheel hang die rekeningkundige hantering van verpligtinge vir werknemersvoordele ingevolge saamgestelde bestaansekerheidsprogramme daarvan af of die komponent van daardie program wat funksioneer om na-aftreevoordele aan werknemers van die ekonomiese entiteit te verskaf, gekenmerk word as ʼn omskrewebydrae- of omskrewevoordeelplan. By die neem van hierdie besluit moet die faktore oorweeg word wat in paragraaf .33 uitgelig word,.

Versekerde voordele

.48 ʼn Entiteit kan versekeringspremies betaal om ʼn na-aftreevoordeelplan te befonds. Die entiteit moet so ʼn plan as ʼn omskrewebydraeplan beskou tensy die entiteit (hetsy regstreeks of onregstreeks deur die plan) ʼn wetlike of afgeleide verpligting het om:

(a) óf die werknemersvoordele regstreeks te betaal wanneer hulle betaalbaar word;

AERP 25

Uitgegee November 2009 26 Werknemersvoordele

(b) óf verdere bedrae te betaal as die versekeraar nie alle toekomstige werknemersvoordele ten opsigte van werknemerdiens in die huidige en vorige verslagdoeningstydperke betaal nie.

As die entiteit so ʼn wetlike of afgeleide verpligting behou, moet die entiteit die plan as ʼn omskrewevoordeelplan beskou.

.49 Die voordele wat deur ʼn versekeringskontrak verseker is, hoef nie ʼn regstreekse of outomatiese verband met die entiteit se verpligting tot werknemersvoordele te hê nie. Na-aftreevoordeelplanne waarby versekeringskontrakte betrokke is, is onderhewig aan dieselfde onderskeid tussen rekeningkundige verantwoording en befondsing as ander befondsde planne.

.50 Waar ʼn entiteit ʼn na-aftreevoordeelverpligting befonds deur by te dra tot ʼn versekeringspolis waarvolgens die entiteit (hetsy regstreeks, onregstreeks deur die plan, deur die meganisme vir die vasstelling van toekomstige premies of deur ʼn verwantepartyverhouding met die versekeraar) ʼn wetlike of afgeleide verpligting behou, kom die betaling van die premies nie neer op ʼn omskrewebydraereëling nie. Daaruit volg dat die entiteit:

(a) ʼn kwalifiserende versekeringspolis as ʼn planbate in rekening bring (kyk paragraaf .08); en

(b) ander versekeringspolisse as vergoedingsregte erken (indien die polisse aan die maatstawwe in paragraaf .116 voldoen).

.51 Waar ʼn versekeringspolis in die naam van ʼn gespesifiseerde plandeelnemer of ʼn groep plandeelnemers is en die entiteit nie enige wetlike of afgeleide verpligting het om enige verlies op die polis te dek nie, het die entiteit geen verpligting om voordele aan die werknemers te betaal nie en het die versekeraar die uitsluitlike verpligting om die voordele te betaal. Die betaling van vasgestelde premies ingevolge sodanige kontrakte is in wese die nakoming van die werknemersvoordeelverpligting, eerder as ʼn belegging om aan die verpligting te voldoen. Gevolglik het die entiteit nie langer ʼn bate of ʼn las nie en behandel derhalwe sodanige betalings as bydraes tot ʼn omskrewebydraeplan.

Na-aftreevoordele: Omskrewebydraeplanne

.52 Rekeningkundige verantwoording van omskrewebydraeplanne is eenvoudig omdat die verslagdoenende entiteit se verpligting vir elke verslagdoeningstydperk bepaal word deur die bedrae wat vir daardie tydperk bygedra moet word. Gevolglik is geen aktuariële aannames nodig om die verpligting of die uitgawe te meet nie en is daar geen moontlikheid van enige aktuariële wins of verlies nie. Bowendien word die verpligtinge op ʼn ongediskonteerde grondslag gemeet, behalwe waar hulle nie geheel

AERP 25

Uitgegee November 2009 27 Werknemersvoordele

en al verskuldig raak binne twaalf maande ná die einde van die verslagdoeningstydperk waarin die werknemers die betrokke diens lewer nie.

Erkenning en meting

.53 Indien ʼn werknemer gedurende ʼn verslagdoeningstydperk diens aan ʼn entiteit gelewer het, moet die entiteit die bydrae wat aan ʼn omskrewebydraeplan betaalbaar is, in ruil vir daardie diens erken:

(a) as ʼn aanspreeklikheid (opgeloopte uitgawe), ná aftrekking van enige bydrae wat reeds betaal is (indien die bydrae wat reeds betaal is, die bydrae vir diens voor die verslagdoeningsdatum oorskry, moet ʼn entiteit daardie oorskryding as ʼn bate erken (voorafbetaalde uitgawe) in die mate waarin die vooruitbetaling tot byvoorbeeld ʼn vermindering in toekomstige betalings of ʼn kontantterugbetaling kan lei); en

(b) as ʼn uitgawe, tensy 'n ander Standaard die insluiting van die bydrae in die koste van ʼn bate vereis of toelaat (kyk byvoorbeeld die Standaarde van AERP oor Voorraad, Eiendom, Aanleg en Toerusting, Ontasbare Bates en Erfenisbates).

.54 Waar bydraes tot ʼn omskrewebydraeplan nie ten volle betaalbaar word binne twaalf maande ná die einde van die verslagdoeningstydperk waarin die werknemers die betrokke diens lewer nie, moet hulle verdiskonteer word met gebruik van die diskontokoers wat in paragraaf .91 gespesifiseer word.

Openbaarmaking

.55 ʼn Entiteit moet die bedrag wat vir omskrewebydraeplanne as ʼn uitgawe erken

word, openbaar maak.

.56 Waar dit deur die Standaard van AERP oor Openbaarmakings deur Verwante Partye vereis word, moet ʼn entiteit inligting openbaar maak oor bydraes tot omskrewebydraeplanne vir sleutelbestuurspersoneel.

Na-aftreevoordele: Omskrewevoordeelplanne

.57 Rekeningkundige verantwoording vir omskrewevoordeelplanne is ingewikkeld omdat aktuariële aannames vereis word om die verpligting en die uitgawe te meet en daar ʼn moontlikheid van aktuariële winste en verliese bestaan. Bowendien word die verpligtinge op ʼn verdiskonteerde grondslag gemeet, omdat hulle vereffen kan word baie jare nadat die werknemers die betrokke diens lewer.

AERP 25

Uitgegee November 2009 28 Werknemersvoordele

Erkenning en meting

.58 Omskrewevoordeelplanne kan óf onbefonds wees óf hulle kan in die geheel of gedeeltelik befonds wees deur ʼn entiteit se bydraes – en soms dié van sy werknemers – tot ʼn entiteit of fonds wat regtens afsonderlik van die verslagdoenende entiteit bestaan en waaruit die werknemersvoordele betaal word. Die betaling van befondsde voordele wanneer hulle betaalbaar word, hang nie alleen af van die finansiële stand en die beleggingsprestasie van die fonds nie, maar ook van ʼn entiteit se vermoë (en bereidwilligheid) om enige tekort in die fonds se bates goed te maak. Derhalwe onderskryf die entiteit in wese die aktuariële en beleggingsrisiko’s verbonde aan die plan.

.59 Anders as by omskrewebydraeplanne is die aanspreeklikheid wat aan die einde van jaar vir ʼn omskrewevoordeelplan erken word, nie beperk tot bydraes wat deur die werkgewer op jaareinde aan die fonds verskuldig is nie, en die uitgawe wat in die staat van finansiële prestasie erken word, is nie noodwendig die bedrag van bydraes verskuldig vir die verslagdoeningstydperk nie. In plaas daarvan meet ʼn entiteit die verpligting en uitgawe met gebruik van die benadering soos uiteengesit in die paragrawe wat volg, en sluit enige bydraes in wat deur die werkgewer in die planbates aan die fonds betaal word.

.60 Rekeningkundige verantwoording deur ʼn entiteit vir omskrewevoordeelplanne behels die volgende stappe:

(a) die gebruik van aktuariële tegnieke om ʼn betroubare raming te maak van die mate van voordeel wat werknemers verdien het in ruil vir hul diens in die huidige en vorige tydperke. Dit vereis dat ʼn entiteit moet vasstel hoeveel voordeel aan die huidige en vorige tydperke toeskryfbaar is (kyk paragraaf .80 tot .84) en ramings (aktuariële aannames) moet maak oor demografiese veranderlikes (soos werknemersomset en -sterftes) en finansiële veranderlikes (soos toekomstige verhogings in salarisse en mediese koste) wat ʼn uitwerking op die koste van die voordeel het (kyk paragraaf .96 tot .104);

(b) verdiskontering van daardie voordeel met gebruik van die Geprojekteerde-eenheidkredietmetode ten einde die huidige waarde van die omskrewevoordeelverpligting en die huidigedienskoste vas te stel (kyk paragraaf .77 tot .79);

(c) vasstelling van die billike waarde van enige planbates (kyk paragraaf .113 tot .115);

(d) vasstelling van die totale bedrag van aktuariële winste en verliese wat erken moet word (kyk paragraaf .105 tot .107);

AERP 25

Uitgegee November 2009 29 Werknemersvoordele

(e) waar ʼn plan ingestel is of verander is, die vasstelling van die gevolglike vorigedienskoste (kyk paragraaf .108 tot .112); en

(f) waar ʼn plan ingekort of vereffen is, die vasstelling van die gevolglike wins of verlies (kyk paragraaf .124 tot .130).

Indien ʼn entiteit meer as een omskrewevoordeelplan het, moet die entiteit hierdie prosedures vir elke wesenlike plan afsonderlik toepas. Die staat verskaf byvoorbeeld onderwys-, gesondheids- en ʼn aantal ander dienste en kan afsonderlike planne vir onderwysers, gesondheidsorgwerkers en ander werknemers hê. Die vereistes van hierdie Standaard word op elkeen van daardie planne afsonderlik toegepas waar hulle wesenlik is.

.61 In sommige gevalle kan ramings, gemiddeldes en berekeningskortpaaie ʼn betroubare benadering verskaf van die gedetailleerde berekenings wat in hierdie Standaard verduidelik word.

In rekening bring van die afgeleide verpligting

.62 ʼn Entiteit moet nie alleen sy wetlike verpligting ingevolge die formele bepalings van ʼn omskrewevoordeelplan in rekening bring nie, maar ook enige afgeleide verpligting wat uit die entiteit se informele praktyke voortspruit. Informele praktyke gee aanleiding tot ʼn afgeleide verpligting waar die entiteit geen realistiese alternatief het as om werknemersvoordele te betaal nie. ʼn Voorbeeld van ʼn afgeleide verpligting is waar ʼn verandering in die entiteit se informele praktyke onaanvaarbare skade aan sy verhouding met werknemers kan veroorsaak.

.63 Die formele bepalings van ʼn omskrewevoordeelplan kan ʼn entiteit toelaat om sy verpligting ingevolge die plan te beëindig. Desnieteenstaande is dit vir ʼn entiteit moeilik om ʼn plan te kanselleer as werknemers behou moet word. By die afwesigheid van enige bewys tot die teendeel aanvaar die in rekening bring van na-aftreevoordele derhalwe dat ʼn entiteit wat tans sodanige voordele beloof, sal aanhou om dit oor die oorblywende werkslewens van werknemers te doen.

Staat van finansiële stand

.64 Die bedrag wat as ʼn omskrewevoordeelaanspreeklikheid erken word, moet die netto totaal van die volgende bedrae wees:

(a) die huidige waarde van die omskrewevoordeelverpligting op die verslagdoeningsdatum (kyk paragraaf .77);

AERP 25

Uitgegee November 2009 30 Werknemersvoordele

(b) minus die billike waarde op die verslagdoeningsdatum van planbates (indien daar is) waaruit die verpligtinge regstreeks vereffen moet word (kyk paragraaf .113 tot .115);

(c) plus enige aanspreeklikheid wat kan ontstaan as gevolg van ʼn minimumbefondsingsvereiste (kyk paragraaf .71 tot .73)

.65 Die huidige waarde van die omskrewevoordeelverpligting is die bruto verpligting, voor aftrekking van die billike waarde van enige planbates.

.66 ʼn Entiteit moet die huidige waarde van omskrewevoordeelverpligtinge en die billike waarde van enige planbates met voldoende gereeldheid vasstel sodat die bedrae wat in die finansiële state erken word, nie wesenlik verskil van die bedrae wat op die verslagdoeningsdatum vasgestel sou word nie.

.67 Hierdie Standaard spoor ʼn entiteit aan (maar stel dit nie as vereiste nie) om ʼn gekwalifiseerde aktuaris te betrek by die meting van alle wesenlike na-aftreevoordeelverpligtinge. Om praktiese redes kan ʼn entiteit ʼn gekwalifiseerde aktuaris versoek om voor die verslagdoeningsdatum ʼn uitvoerige waardasie van die verpligting uit te voer. Desnieteenstaande word die resultate van daardie waardasie vir enige wesenlike transaksies en ander wesenlike veranderings in omstandighede (met inbegrip van veranderinge in markpryse en rentekoerse) tot op die verslagdoeningsdatum bygewerk.

Bate-erkenningsplafon

.68 Die bedrag wat volgens paragraaf .64 vasgestel kan word, kan negatief (ʼn bate) wees. ʼn Entiteit moet die gevolglike bate teen die laagste van die volgende meet:

(a) die bedrag wat volgens paragraaf .64 vasgestel is; en

(b) die huidige waarde van enige ekonomiese voordele wat in die vorm van terugbetalings uit die plan of verminderings in toekomstige bydraes tot die plan beskikbaar is. Die huidige waarde van hierdie ekonomiese voordele moet vasgestel word met gebruik van die diskontokoers wat in paragraaf .91 gespesifiseer word.

.69 Enige aansuiwerings wat uit die perk in paragraaf .68(b) voortspruit, moet in surplus of tekort erken word.

.70 ʼn Bate kan ontstaan waar ʼn omskrewevoordeelplan oorbefonds is of waar, in bepaalde gevalle, aktuariële winste erken word. ʼn Entiteit erken in sulke gevalle ʼn bate omdat:

(a) die entiteit ʼn hulpbron beheer, wat die vermoë is om die surplus te gebruik om toekomstige voordele te genereer;

AERP 25

Uitgegee November 2009 31 Werknemersvoordele

(b) daardie beheer ʼn gevolg is van vorige gebeure (bydraes betaal deur die entiteit en diens gelewer deur die werknemer); en

(c) toekomstige ekonomiese voordele vir die entiteit beskikbaar is in die vorm van ʼn vermindering in toekomstige bydraes of ʼn kontantterugbetaling, hetsy regstreeks aan die entiteit of onregstreeks aan ʼn ander plan met 'n tekort.

Voorbeeld wat paragraaf .68 verder toelig: Beperking op erkenning van planbate

ʼn Omskrewevoordeelplan het die volgende kenmerke:

Huidige waarde van die verpligting

R

1 100

Billike waarde van planbates 1 190

(90)

Huidige waarde van beskikbare toekomstige terugbetalings en verminderings in toekomstige bydraes 60

Perk van bate 60

R60 is minder as R90. Derhalwe erken die entiteit ʼn bate van R60 en openbaar dat die perk in paragraaf .68(b) die drabedrag van die bate met R30 verminder het (kyk paragraaf .136(e)(i)).

Bate-erkenningsplafon: Indien ʼn minimumbefondsingsvereiste tot ʼn las aanleiding kan gee

.71 As ʼn entiteit ingevolge ʼn minimumbefondsingsvereiste ʼn verpligting het om bydraes te betaal om 'n bestaande tekort op die minimumbefondsingsgrondslag ten opsigte van dienste wat reeds ontvang is te dek, bepaal die entiteit of die bydraes wat betaalbaar is as ʼn terugbetaling of vermindering in toekomstige bydraes beskikbaar sal wees nadat hulle in die plan inbetaal is.

.72 In die mate waarin die bydraes wat betaalbaar is, nie beskikbaar sal wees nadat hulle in die plan inbetaal is nie, moet die entiteit ʼn las erken wanneer die verpligting ontstaan. Die las verminder die omskrewevoordeelbate of verhoog die omskrewevoordeellas sodat geen wins of verlies na verwagting deur die toepassing van paragraaf .68 van hierdie Standaard sal ontstaan wanneer die bydraes betaal word nie.

AERP 25

Uitgegee November 2009 32 Werknemersvoordele

.73 Die las ten opsigte van die minimumbefondsingsvereiste en enige daaropvolgende hermeting van daardie las word onmiddellik in surplus of tekort erken ooreenkomstig die uitwerking van die toepassing van die perk in paragraaf .68 op die meting van die omskrewevoordeelbate.

Staat van finansiële prestasie

.74 ʼn Entiteit moet die netto totaal van die volgende bedrae in surplus of tekort erken, buiten in die mate waarin 'n ander Standaard hul insluiting in die koste van ʼn bate vereis of toelaat:

(a) huidigedienskoste (kyk paragraaf .76 tot .104);

(b) rentekoste (kyk paragraaf .95);

(c) die verwagte opbrengs op enige planbates (kyk paragraaf .120 tot .122) en op enige terugbetalingsregte (kyk paragraaf .116);

(d) aktuariële winste en verliese (kyk paragraaf .105 tot .107);

(e) vorigedienskoste (kyk paragraaf .108);

(f) die uitwerking van enige inkortings of aflossings (kyk paragraaf .124 en .125); en

(g) die uitwerking van die toepassing van die perk in paragraaf .68.

.75 Ander Standaarde vereis die insluiting van sekere werknemersvoordeelkoste by die koste van bates soos voorraad of eiendom, aanleg en toerusting (kyk byvoorbeeld die Standaarde van AERP oor Voorraad, Eiendom, Aanleg en Toerusting, Ontasbare Bates en Erfenisbates). Enige na-aftreevoordeelkoste wat by die koste van sulke bates ingesluit is, sluit die toepaslike verhouding in van die komponente wat in paragraaf .74 gelys word.

Erkenning en meting: Huidige waarde van omskrewevoordeelverpligtinge en huidigedienskoste

.76 Die uiteindelike koste van ʼn omskrewevoordeelplan kan deur baie veranderlikes beïnvloed word, soos eindsalarisse, werknemersomset en -sterftes, mediesekosteneigings en, vir ʼn befondsde plan, die beleggingsverdienste op die planbates. Die uiteindelike koste van die plan is onseker en hierdie onsekerheid sal waarskynlik oor ʼn lang tydperk voortduur. Ten einde die huidige waarde van die na-aftreevoordeelverpligtinge en die verwante huidigedienskoste te meet, is dit nodig om:

(a) ʼn aktuariëlewaardasiemetode toe te pas (kyk paragraaf .77 tot .79);

(b) voordeel aan dienstydperke toe te skryf (kyk paragraaf .80 tot .84); en

(c) aktuariële aannames te maak (kyk paragraaf .85 tot .104).

AERP 25

Uitgegee November 2009 33 Werknemersvoordele

Aktuariëlewaardasiemetode

.77 ʼn Entiteit moet die Geprojekteerde-eenheidkredietmetode gebruik om die huidige waarde van die omskrewevoordeelverpligtinge en die verwante huidigedienskoste asook, waar toepaslik, vorigedienskoste vas te stel.

.78 Die Geprojekteerde-eenheidkredietmetode (soms bekend as die opgelooptevoordeelmetode wat na verhouding op diens aangepas is of as die voordele-/diensjaremetode) beskou elke dienstydperk asof dit tot ʼn bykomende eenheid van voordeelgeregtigdheid aanleiding gee (kyk paragraaf .80 tot .84) en meet elke eenheid afsonderlik om die finale verpligting op te bou (kyk paragraaf .85 tot .104).

Voorbeeld wat paragraaf .78 verder toelig: Geprojekteerde-eenheidkredietmetode

ʼn Enkelbedragvoordeel is by diensbeëindiging betaalbaar en is gelyk aan 1% van die eindsalaris vir elke diensjaar. Die salaris in jaar 1 is R10 000 en daar word aanvaar dat dit teen 7% (saamgestel) per jaar sal vermeerder. Die diskontokoers wat gebruik word, is 10% per jaar.

Die volgende tabel toon aan hoe die verpligting opbou vir ʼn werknemer wat na verwagting aan die einde van jaar 5 die diens sal verlaat, in die veronderstelling dat daar geen veranderinge in aktuariële aannames is nie. Eenvoudigheidshalwe laat hierdie voorbeeld die bykomende aanpassing wat nodig is om die waarskynlikheid te weerspieël dat die werknemer die entiteit op ʼn vroeër of later datum kan verlaat, buite rekening.

Jaar 1 2 3 4 5

Voordeel toegeskryf aan: R R R R R

– vorige jare - 131 262 393 524

– huidige jaar (1% van eindsalaris) 131 131 131 131 131

– huidige en vorige jare 131 262 393 524 655

Jaar 1 2 3 4 5

Aanvangsverpligting - 89 196 324 476

AERP 25

Uitgegee November 2009 34 Werknemersvoordele

Rente teen 10% - 9 20 33 48

Huidigedienskoste 89 98 108 119 131

Eindverpligting 89 196 324 476 655

Nota:

1. Die aanvangsverpligting is die huidige waarde van die voordeel toegeskryf aan vorige jare.

2. Die huidigedienskoste is die huidige waarde van die voordeel toegeskryf aan die huidige jaar.

3. Die eindverpligting is die huidige waarde van die voordeel toegeskryf aan huidige en vorige jare.

.79 ʼn Entiteit diskonteer die geheel van ʼn na-aftreevoordeelverpligting, selfs as deel van die verpligting binne twaalf maande ná die verslagdoeningsdatum opeisbaar is.

Toeskrywing van voordeel aan dienstydperke

.80 By die vasstelling van die huidige waarde van sy omskrewevoordeelverpligtinge en die verwante huidigedienskoste en, waar toepaslik, vorigedienskoste, moet ʼn entiteit voordeel aan dienstydperke toeskryf ingevolge die plan se voordeelformule. As ʼn werknemer se diens in later jare egter sal lei tot ʼn wesenlik hoër vlak van voordeel as in vorige jare, moet ʼn entiteit voordeel op ʼn reguitlyngrondslag toeskryf vanaf:

(a) die datum waarop diens deur die werknemer die eerste keer lei tot voordele ingevolge die plan (ongeag of die voordele afhang van verdere diens al dan nie); tot

(b) die datum waarop verdere diens deur die werknemer tot geen wesenlike bedrag van verdere voordele ingevolge die plan sal lei nie, buiten van verdere salarisverhogings.

.81 Die Geprojekteerde-eenheidkredietmetode vereis dat ʼn entiteit voordeel toeskryf aan die huidige tydperk (ten einde huidigedienskoste vas te stel) en die huidige en vorige tydperke (ten einde die huidige waarde van omskrewevoordeelverpligtinge vas te stel). ʼn Entiteit skryf die voordeel toe aan tydperke waarin die verpligting ontstaan om na-aftreevoordele te voorsien. Daardie verpligting ontstaan indien werknemers dienste lewer in ruil vir na-aftreevoordele wat ʼn entiteit verwag om in toekomstige

AERP 25

Uitgegee November 2009 35 Werknemersvoordele

verslagdoeningstydperke te betaal. Aktuariële tegnieke laat ʼn entiteit toe om daardie verpligting met voldoende betroubaarheid te meet om erkenning van ʼn las te regverdig.

AERP 25

Uitgegee November 2009 36 Werknemersvoordele

Voorbeeld wat paragraaf .81 verder toelig: Toeskrywing van voordeel aan dienstydperke

1. ʼn Omskrewevoordeelplan bied ʼn enkelbedragvoordeel van R100 betaalbaar by aftrede vir elke jaar diens.

ʼn Voordeel van R100 word aan elke jaar toegeskryf. Die huidigedienskoste is die huidige waarde van R100. Die huidige waarde van die omskrewevoordeelverpligting is die huidige waarde van R100, vermenigvuldig met die aantal jare diens tot op die verslagdoeningsdatum.

Indien die voordeel onmiddellik betaalbaar is wanneer die werknemer die entiteit verlaat, toon die huidigedienskoste en die huidige waarde van die omskrewevoordeelverpligting die datum waarop daar verwag word die werknemer sal vertrek. Vanweë die uitwerking van verdiskontering is dit dus minder as die bedrae wat vasgestel sou word as die werknemer op die verslagdoeningsdatum sou vertrek.

2. ʼn Plan bied ʼn maandelikse pensioen van 0,2% van die eindsalaris vir elke jaar diens. Die pensioen is betaalbaar van die ouderdom van 65 af.

Voordeel gelyk aan die huidige waarde, op die verwagte aftreedatum, van ʼn maandelikse pensioen van 0,2% van die geraamde eindsalaris betaalbaar van die verwagte aftreedatum af tot op die verwagte datum van afsterwe, word aan elke jaar diens toegeskryf. Die huidigedienskoste is die huidige waarde van daardie voordeel. Die huidige waarde van die omskrewevoordeelverpligting is die huidige waarde van maandelikse pensioenbetalings van 0,2% van die eindsalaris, vermenigvuldig met die aantal jare diens tot op die verslagdoeningsdatum.

Die huidigedienskoste en die huidige waarde van die omskrewevoordeelverpligting word verdiskonteer omdat pensioenbetalings op die ouderdom van 65 begin.

.82 Werknemerdiens gee aanleiding tot ʼn verpligting ingevolge ʼn omskrewevoordeelplan selfs indien die voordele van toekomstige diens afhang (dit het met ander woorde nie gevestig nie). Werknemerdiens voor die vestigingsdatum gee aanleiding tot ʼn afgeleide verpligting omdat die hoeveelheid toekomstige diens wat ʼn werknemer op elke agtereenvolgende verslagdoeningsdatum sal moet lewer voordat hy op die voordeel geregtig raak, verminder word. By die meet van sy omskrewevoordeelverpligting neem ʼn entiteit die waarskynlikheid in ag dat sommige werknemers nie aan enige vestigingsvereistes sal voldoen nie. Insgelyks, hoewel bepaalde na-aftreevoordele, byvoorbeeld mediese na-aftredevoordele, betaalbaar word slegs indien ʼn gespesifiseerde gebeurtenis plaasvind indien ʼn werknemer nie langer in diens is nie. ʼn Verpligting ontstaan indien die werknemer diens lewer wat geregtigdheid op die voordeel sal bied wanneer die gespesifiseerde gebeurtenis plaasvind. Die waarskynlikheid dat die gespesifiseerde gebeurtenis sal plaasvind, affekteer die meting van die verpligting, maar bepaal nie of die verpligting bestaan nie.

AERP 25

Uitgegee November 2009 37 Werknemersvoordele

Voorbeelde wat paragraaf .82 verder toelig: Vestigende en nie-vestigende voordele

1. ʼn Plan betaal ʼn voordeel van R100 vir elke jaar van diens. Die voordele vestig ná 10 jaar diens.

ʼn Voordeel van R100 word aan elke jaar toegeskryf. In elkeen van die eerste 10 jaar weerspieël die huidigedienskoste en die huidige waarde van die verpligting die waarskynlikheid dat die werknemer dalk nie tien jare diens sal voltooi nie.

2. ʼn Plan betaal ʼn voordeel van R100 vir elke jaar diens, met uitsluiting van diens voor die ouderdom van 25. Die voordele vestig onmiddellik.

Geen voordeel word aan diens toegeskryf voor die ouderdom van 25 nie, omdat diens voor daardie datum nie tot voordele (voorwaardelik of onvoorwaardelik) lei nie. ʼn Voordeel van R100 word aan elke daaropvolgende jaar toegeskryf.

.83 Die verpligting neem toe tot die datum waarop verdere diens deur die werknemer tot geen wesenlike bedrag van verdere voordele sal lei nie. Derhalwe word alle voordeel toegeskryf aan tydperke wat op of voor daardie datum eindig. Voordeel word ingevolge die plan se voordeelformule aan individuele verslagdoeningstydperke toegeskryf. Indien ʼn werknemer se diens in later jare egter tot ʼn wesenlik hoër vlak van voordeel as in vorige jare sal lei, moet ʼn entiteit voordeel op ʼn reguitlyngrondslag toeskryf tot die datum waarop verdere diens deur die werknemer nie tot enige wesenlike hoeveelheid verdere voordele sal lei nie. Dit is omdat die werknemer se diens gedurende die volle tydperk uiteindelik tot voordeel op daardie hoër vlak sal lei.

Voorbeeld wat paragraaf .83 verder toelig: Toeskrywing van voordele aan verslagdoeningstydperke

1. ʼn Plan betaal ʼn enkelbedragvoordeel van R1 000 wat ná 10 jaar diens vestig. Die plan bied geen verdere voordeel vir daaropvolgende diens nie.

ʼn Voordeel van R100 (R1 000 gedeel deur 10) word toegeskryf aan elkeen van die eerste 10 jaar. Die huidigedienskoste in elkeen van die eerste 10 jaar weerspieël die waarskynlikheid dat die werknemer dalk nie tien jaar diens sal voltooi nie. Geen voordeel word aan daaropvolgende jare toegeskryf nie.

2. ʼn Plan betaal ʼn enkelbedragaftreevoordeel van R2 000 aan alle werknemers wat op die ouderdom van 55 ná 20 jaar diens nog steeds werksaam is, of wat nog op die ouderdom van 65 in diens is, ongeag hul dienstydperk.

Vir werknemers wat voor die ouderdom van 35 aansluit, lei diens eers op die ouderdom van 35 tot voordele ingevolge die plan (ʼn werknemer sou diens op die ouderdom van 30 kon verlaat en op die ouderdom van 33 terugkeer sonder enige uitwerking op die bedrag of tydsberekening van voordele). Daardie voordele is voorwaardelik vir verdere diens. Ook diens ná die ouderdom van 55 sal nie tot enige

AERP 25

Uitgegee November 2009 38 Werknemersvoordele

wesenlike verdere voordele lei nie. Aan hierdie werknemers skryf die entiteit voordele van R100 (R2 000 gedeel deur 20) toe vir elke jaar van die ouderdom van 35 af tot die ouderdom van 55.

Vir werknemers wat tussen die ouderdomme 35 en 45 aansluit, sal diens van langer as twintig jaar tot geen wesenlike hoeveelheid verdere voordele lei nie. Aan hierdie werknemers skryf die entiteit voordele van R100 (R2 000 gedeel deur 20) toe vir elkeen van die eerste twintig jaar.

Vir ʼn werknemer wat op die ouderdom van 55 aansluit, sal diens van langer as tien jaar tot geen wesenlike hoeveelheid verdere voordele lei nie. Aan so ʼn werknemer skryf die entiteit voordele van R200 (R2 000 gedeel deur 10) toe vir elkeen van die eerste tien jaar.

Vir alle werknemers sal die huidigedienskoste en die huidige waarde van die verpligting die waarskynlikheid dat die werknemer dalk nie die nodige dienstydperk sal voltooi nie, weerspieël.

3. ʼn Mediese na-aftreeplan betaal 40% van ʼn werknemer se mediese na-aftreekoste terug as die werknemer die diens ná meer as 10 en minder as 20 jaar diens verlaat en 50% van daardie koste as die werknemer die diens ná 20 of meer jaar diens verlaat.

Ingevolge die plan se voordeelformule skryf die entiteit 4% toe van die huidige waarde van die verwagte mediese koste by (40% gedeel deur 10) vir elk van die eerste 10 jaar en 1% (10% gedeel deur 10) vir elk van die tweede 10 jaar. Die huidigedienskoste in elke jaar weerspieël die waarskynlikheid dat die werknemer dalk nie die nodige dienstydperk sal voltooi om ʼn deel van of al die voordele te verdien nie.

Vir werknemers wat na verwagting binne 10 jaar die diens sal verlaat, word geen voordeel toegeskryf nie.

4. ʼn Mediese na-aftreeplan betaal 10% van ʼn werknemer se mediese na-aftreekoste terug as die werknemer die diens ná meer as 10 en minder as 20 jaar diens verlaat en 50% van daardie koste as die werknemer die diens ná 20 of meer jaar diens verlaat.

Diens in later jare sal lei tot ʼn wesenlik hoër vlak van voordeel as in vroeër jare. Vir werknemers wat na verwagting die diens ná 20 of meer jaar diens sal verlaat, skryf die entiteit voordeel op ʼn reguitlyngrondslag toe ooreenkomstig paragraaf .82. Diens van langer as 20 jaar sal nie tot enige wesenlike hoeveelheid verdere voordele lei nie. Derhalwe is die voordeel wat ten opsigte van elkeen van die eerste 20 jaar toegeskryf word 2,5% van die huidige waarde van die verwagte mediese koste (50% gedeel deur 20).

Vir werknemers wat na verwagting die diens ná tussen 10 en 20 jaar sal verlaat, is die voordeel wat ten opsigte van elkeen van die eerste 10 jaar toegeskryf word, 1% van die huidige waarde van die verwagte mediese koste. Vir hierdie werknemers word geen voordeel toegeskryf ten opsigte van diens tussen die einde van die tiende jaar en die geraamde diensverlatingsdatum nie.

AERP 25

Uitgegee November 2009 39 Werknemersvoordele

Vir werknemers wat na verwagting binne 10 jaar die diens sal verlaat, word geen voordeel toegeskryf nie.

.84 Waar die bedrag van ʼn voordeel ʼn konstante gedeelte van die eindsalaris vir elke jaar diens is, sal toekomstige salarisverhogings die bedrag beïnvloed wat nodig sal wees om die verpligting wat ontstaan vir diens voor die verslagdoeningsdatum te vereffen, maar dit skep nie ʼn bykomende verpligting nie. Derhalwe:

(a) lei salarisverhogings vir die doel van paragraaf .80(b) nie tot verdere voordele nie, selfs al hang die bedrag van die voordele van die eindsalaris af; en

(b) is die bedrag van die voordeel wat aan elke tydperk toegeskryf word, ʼn konstante gedeelte van die salaris waaraan die voordeel gekoppel is.

Voorbeeld wat paragraaf .84 verder toelig: Toeskrywing van voordele aan verslagdoeningstydperke

Werknemers is geregtig op ʼn voordeel van 3% van die eindsalaris vir elke diensjaar voor die ouderdom van 55.

Voordeel van 3% van geraamde eindsalaris word toegeskryf aan elke jaar tot die ouderdom van 55. Dit is die datum waarop verdere diens deur die werknemer sal lei tot geen wesenlike bedrag van verdere voordele ooreenkomstig die plan nie. Geen voordeel word toegeskryf aan diens ná daardie ouderdom nie.

Aktuariële aannames

.85 Aktuariële aannames moet onbevooroordeeld en onderling aanpasbaar wees.

.86 Aktuariële aannames is ʼn entiteit se beste ramings van die veranderlikes wat die uiteindelike koste van die voorsiening van na-aftreevoordele sal bepaal. Aktuariële aannames behels:

(a) demografiese aannames oor die toekomstige eienskappe van huidige en voormalige werknemers (en hul afhanklikes) wat vir voordele kwalifiseer. Demografiese aannames handel oor aangeleenthede soos:

(i) sterftes, gedurende die dienstyd sowel as ná aftrede;

(ii) koerse van werknemeromset, -gestremdheid en vroeë aftrede;

(iii) die proporsie planlede met afhanklikes wat vir voordele kwalifiseer; en

(iv) eisekoerse vir mediese planne.

(b) finansiële aannames wat handel met items soos:

(i) die diskontokoers (kyk paragraaf .91 tot .95);

(ii) toekomstige salaris- en voordeelvlakke (kyk paragraaf .96 tot .100);

AERP 25

Uitgegee November 2009 40 Werknemersvoordele

(iii) in die geval van mediese voordele, toekomstige mediese koste, met inbegrip van, waar dit wesenlik is, die koste van die administrasie van eise en voordelebetalings (kyk paragraaf .101 tot .104); en

(iv) die verwagte opbrengskoers op planbates (kyk paragraaf .122 tot .123).

.87 Aktuariële aannames is onpartydig as hulle nóg onversigtig nóg uitermate konserwatief is.

.88 Aktuariële aannames is onderling versoenbaar as hulle die ekonomiese verwantskappe tussen faktore soos inflasie, salarisverhogingskoerse, die opbrengs op planbates en diskontokoerse weerspieël. Alle aannames wat afhanklik is van ʼn bepaalde inflasievlak (soos aannames oor rentekoerse en salaris- en voordeelverhogings) in enige gegewe toekomstige tydperk aanvaar byvoorbeeld dieselfde inflasievlak in daardie tydperk.

.89 ʼn Entiteit bepaal die diskontokoers en ander finansiële aannames in nominale (verklaarde) bepalings, tensy ramings in reële (inflasie-aangesuiwerde) terme betroubaarder is, byvoorbeeld in ʼn hiperinflasionêre ekonomie (kyk die Standaard van AERP oor Finansiële Verslagdoening in Hiperinflasionêre Ekonomieë), of waar die voordeel indeksgekoppel is en daar ʼn diep mark is in indeksgekoppelde effekte van dieselfde geldeenheid en termyn.

.90 Finansiële aannames moet gegrond wees op markverwagtinge op die verslagdoeningsdatum vir die tydperk waaroor die verpligtinge vereffen moet word.

Aktuariële aannames: Diskontokoers

.91 Die koers wat gebruik word om na-aftreevoordeelverpligtinge (sowel befonds as onbefonds) te verdiskonteer, moet die tydwaarde van geld weergee. Die geldeenheid en die termyn van die finansiële instrument wat gekies word om die tydwaarde van geld weer te gee moet strook met die geldeenheid en die geraamde termyn van die na-aftreevoordeelverpligtinge.

.92 Een aktuariële aanname wat ʼn wesenlike invloed het, is die diskontokoers. Die diskontokoers gee die tydwaarde van geld weer, maar nie die aktuariële of beleggingsrisiko nie. Hierbenewens weerspieël die diskontokoers nie die entiteitspesifieke kredietrisiko wat deur die entiteit se krediteure gedra word nie, en ook nie die risiko dat toekomstige ervaring van aktuariële aannames kan verskil nie.

.93 Die diskontokoers weerspieël die geraamde tydsberekening van voordeelbetalings. In die praktyk bereik ʼn entiteit dit dikwels deur die toepassing van ʼn enkele geweegdegemiddelde-diskontokoers wat die geraamde tydsberekening en voordeelbetalingsbedrag en die geldeenheid waarin die voordele betaal moet word, weerspieël.

.94 Die diskontokoers wat die tydwaarde van geld weerspieël, word die beste weergegee deur te verwys ná markopbrengste op staatseffekte op die

AERP 25

Uitgegee November 2009 41 Werknemersvoordele

verslagdoeningsdatum. Waar daar geen diep mark in staatseffekte bestaan met ʼn uitkeerdatum ver genoeg in die toekoms om die geraamde uitkeerdatum van al die voordelebetalings te ewenaar nie, gebruik ʼn entiteit die huidige markkoerse van die toepaslike termyn om kortertermynbetalings te verdiskonteer, en raam die diskontokoers vir latere uitkeerdatums deur die ekstrapolering van huidige markkoerse op die opbrengskromme. Dit is onwaarskynlik dat die totale huidige waarde van ʼn omskrewevoordeelverpligting besonder sensitief sal wees vir die diskontokoers wat toegepas word op die gedeelte van die voordele wat tot ná die finale uitkeerdatum van die beskikbare finansiële instrument betaalbaar is.

.95 Rentekoste word bereken deur die diskontokoers wat die aanvang van die tydperk vasgestel is te vermenigvuldig met die huidige waarde van die omskrewevoordeelverpligting regdeur daardie tydperk, met inagneming van enige wesenlike veranderings in die verpligting. Die huidige waarde van die verpligting sal verskil van die las wat in die staat van finansiële stand erken word, omdat die las ná aftrekking van die billike waarde van enige planbates erken word.

AERP 25

Uitgegee November 2009 42 Werknemersvoordele

Aktuariële aannames: Salarisse, voordele en mediese koste

.96 Na-aftreevoordeelverpligtinge moet gemeet word op ʼn grondslag wat die volgende weerspieël:

(a) geraamde toekomstige salarisverhogings;

(b) die voordele wat op die verslagdoeningsdatum in die bepalings van die plan uiteengesit word (of wat voortspruit uit enige afgeleide verpligting wat verder gaan as daardie bepalings); en

(c) geraamde toekomstige veranderinge in die vlak van enige staatsvoordele wat die voordele wat ingevolge ʼn omskrewevoordeelplan betaalbaar is, beïnvloed indien, en slegs indien:

(i) daardie veranderinge voor die verslagdoeningsdatum ingestel is; of

(ii) die geskiedenis, of enige ander betroubare bewyse, daarop dui dat daardie staatsvoordele op een of ander voorspelbare manier sal verander, byvoorbeeld ooreenkomstig toekomstige veranderinge in algemene prysvlakke of algemene salarisvlakke.

.97 Ramings van toekomstige salarisverhogings neem inflasie, senioriteit, bevordering en ander tersaaklike faktore in ag, soos vraag en aanbod in die indiensnemingmark.

.98 Indien die formele bepalings van ʼn plan (of ʼn afgeleide verpligting wat verder as daardie bepalings gaan) van ʼn entiteit vereis om in die toekoms voordele te verander, dui die meting van die verpligting daardie veranderinge aan. Dit is byvoorbeeld die geval indien:

(a) die entiteit ʼn geskiedenis het dat hy voordele verhoog, byvoorbeeld om die uitwerking van inflasie te verminder, en daar geen aanduiding is dat hierdie praktyk in die toekoms sal verander nie; of

(b) aktuariële winste reeds in die finansiële state erken is en die entiteit deur óf die formele bepalings van ʼn plan (of ʼn afgeleide verpligting wat verder gaan as daardie bepalings) óf wetgewing verplig word om enige surplus in die plan tot voordeel van die plandeelnemers te gebruik (kyk paragraaf .110(c)).

.99 Aktuariële aannames weerspieël nie veranderinge in toekomstige voordele wat nie op die verslagdoeningsdatum in die formele bepalings van die plan (of ʼn afgeleide verpligting) uiteengesit is nie. Sulke veranderinge sal die volgende tot gevolg hê:

(a) vorigedienskoste, in die mate waarin hulle voordele voor die verandering vir diens verruil; en

(b) huidigedienskoste vir tydperke ná die verandering, in die mate waarin hulle voordele ná die verandering vir diens verruil.

.100 Sommige na-aftreevoordele is gekoppel aan veranderlikes soos die vlak van voordeelaansprake van bestaansekerheidspensioene of staats- mediese sorg. Die

AERP 25

Uitgegee November 2009 43 Werknemersvoordele

meting van sulke voordele weerspieël verwagte veranderinge in sodanige veranderlikes, gegrond op geskiedenis en ander betroubare bewyse.

.101 Aannames oor mediese koste moet rekening hou met geraamde toekomstige veranderinge in die koste van mediese dienste, voortspruitend uit sowel inflasie as spesifieke veranderinge in mediese koste.

.102 Meting van mediese voordele ná aftrede vereis aannames oor die vlak en frekwensie van toekomstige eise en die koste van voldoening aan daardie eise. ʼn Entiteit raam toekomstige mediese koste op grond van historiese data oor die entiteit se eie ervaring, aangevul waar nodig deur historiese data van ander entiteite, versekeringsmaatskappye, mediese diensverskaffers of ander bronne. Ramings van toekomstige mediese koste oorweeg die uitwerking van tegnologiese vordering, veranderinge in gesondheidsorgbenutting of leweringspatrone en veranderinge in die gesondheidstatus van plandeelnemers.

.103 Die vlak en frekwensie van eise is veral gevoelig vir die ouderdom, gesondheidstatus en geslag van werknemers (en hul afhanklikes) en kan ook gevoelig wees vir ander faktore soos geografiese ligging. Derhalwe word historiese data aangepas in die mate waarin die demografiese samestelling van die bevolking verskil van dié van die statistiese populasie wat as grondslag vir die historiese gegewens gebruik word. Dit is ook aangepas waar daar betroubare bewyse is dat historiese tendense nie sal voortduur nie.

.104 Sommige na-aftreegesondheidsorgplanne vereis dat werknemers bydra tot die mediese koste wat deur die plan gedek word. Ramings van toekomstige mediese koste hou rekening met al sulke bydraes, gegrond op die bepalings van die plan op die verslagdoeningsdatum (of gegrond op enige afgeleide verpligting wat verder gaan as daardie bepalings). Veranderinge in daardie werknemerbydraes het vorigedienskoste of, waar toepaslik, inkortings tot gevolg. Die koste van voldoening aan eise kan verminder word deur voordele van staats- of ander mediese diensverskaffers (kyk paragraaf .96(c) en .100).

Aktuariële winste en verliese

.105 By die meet van ʼn entiteit se omskrewevoordeellas ooreenkomstig paragraaf .64 moet die entiteit aktuariële winste en verliese in surplus of tekort erken in die verslagdoeningstydperk waarin dit voorkom.

.106 Aktuariële winste en verliese word ten volle erken in die jaar waarin dit in die staat van finansiële prestasie voorkom.

.107 Aktuariële winste en verliese kan voortspruit uit toenames of afnames in óf die huidige waarde van ʼn omskrewevoordeelverpligting óf die billike waarde van enige verbandhoudende planbates. Oorsake van aktuariële winste en verliese sluit byvoorbeeld die volgende in:

(a) onverwagte hoë of lae koerse van werknemersomset, vroeë aftrede of sterftes, of van verhogings in salarisse, voordele (as die formele of afgeleide bepalings

AERP 25

Uitgegee November 2009 44 Werknemersvoordele

van ʼn plan vir inflasionêre voordeelverhogings voorsiening maak) of mediese koste;

(b) die uitwerking van veranderinge in ramings van toekomstige werknemeromset, vroeë aftrede of sterfte of van verhogings in salarisse, voordele (as die formele of afgeleide bepalings van ʼn plan vir inflasionêre voordeelverhogings voorsiening maak) of mediese koste;

(c) die uitwerking van veranderinge in die diskontokoers; en

(d) verskille tussen die werklike opbrengs op planbates en die verwagte opbrengs op planbates (kyk paragraaf .121 tot .123).

Vorigedienskoste

.108 By die meting van ʼn entiteit se omskrewevoordeellas ingevolge paragraaf .64 moet die entiteit vorigedienskoste in die verslagdoeningstydperk waarin die plan gewysig word, as ʼn uitgawe erken.

.109 Vorigedienskoste ontstaan wanneer ʼn entiteit ʼn omskrewevoordeelplan bekendstel wat voordele aan vorige diens toeskryf, of die voordele wat ingevolge ʼn bestaande omskrewevoordeelplan vir vorige diens betaalbaar is, verander. Sulke veranderinge is in ruil vir werknemerdiens wat reeds gelewer is en word as gevolg daarvan in die verslagdoeningstydperk waarin die plan gewysig is, erken. Die entiteit meet vorigedienskoste as die verandering in die las wat uit die wysiging voortspruit (kyk paragraaf .78). Negatiewe vorigedienskoste ontstaan indien ʼn entiteit die voordele wat aan vorige diens toeskryfbaar is, verander sodat die huidige waarde van die omskrewevoordeelverpligting verminder.

.110 Vorigedienskoste sluit die volgende uit:

(a) die uitwerking van verskille tussen werklike en voorheen aanvaarde salarisverhogings op die verpligting om voordele vir diens in voorafgaande jare te betaal (daar is geen vorigedienskoste nie omdat aktuariële aannames voorsiening maak vir geprojekteerde salarisse);

(b) onder- en oorskattings van diskresionêre pensioenverhogings indien ʼn entiteit ʼn afgeleide verpligting het om sulke verhogings toe te staan (daar is geen vorigedienskoste nie omdat aktuariële aannames voorsiening maak vir sulke verhogings);

(c) ramings van voordeelverbeterings wat voortspruit uit aktuariële winste wat in die finansiële state erken is as die entiteit verplig word, hetsy deur die formele bepalings van ʼn plan (of ʼn afgeleide verpligting wat verder gaan as daardie bepalings) of wetgewing, om enige surplus in die plan te gebruik tot voordeel van plandeelnemers, selfs as die voordeelverhoging nog nie formeel toegeken is nie (die gevolglike toename in die verpligting is ʼn aktuariële verlies en nie vorigedienskoste nie – kyk paragraaf .98(b));

(d) die toename in gevestigde voordele indien, in die afwesigheid van nuwe of verbeterde voordele, werknemers aan die vestigingsvereistes voldoen (daar is

AERP 25

Uitgegee November 2009 45 Werknemersvoordele

geen vorigedienskoste nie omdat die entiteit die geraamde koste van voordele as huidigedienskoste erken het namate die diens gelewer is); en

(e) die uitwerking van planwysigings wat voordele vir toekomstige diens verminder (ʼn inkorting).

.111 Indien ʼn entiteit voordele betaalbaar ingevolge ʼn bestaande omskrewevoordeelplan verminder, word die gevolglike vermindering in die omskrewevoordeellas as (negatiewe) vorigedienskoste erken in die verslagdoeningstydperk waarin die plan gewysig is.

.112 Indien ʼn entiteit bepaalde voordele wat ingevolge ʼn bestaande omskrewevoordeelplan betaalbaar is, verminder en terselfdertyd ander voordele betaalbaar ingevolge die plan vir dieselfde werknemers vermeerder, hanteer die entiteit die verandering as ʼn enkele netto verandering.

Erkenning en meting: Planbates

Billike waarde van planbates

.113 Die billike waarde van enige planbates word afgetrek by die vasstelling van die bedrag wat ooreenkomstig paragraaf .64 in die staat van finansiële stand erken word. As geen markprys beskikbaar is nie, word die billike waarde van planbates geraam, byvoorbeeld deur diskontering van verwagte toekomstige kontantvloei met behulp van ʼn diskontokoers wat sowel die risiko verbonde aan die planbates as die verval- of verwagte vervreemdingsdatum van daardie bates weerspieël (of, as hulle geen vervaldatum het nie, die verwagte tydperk tot die nakoming van die verbandhoudende verpligting).

.114 Planbates sluit onbetaalde bydraes uit wat die verslagdoenende entiteit aan die fonds moet betaal, asook enige onoordraagbare finansiële instrumente wat deur die entiteit uitgereik is en deur die fonds gehou word. Planbates word verminder met enige laste van die fonds wat nie betrekking het op werknemersvoordele nie, byvoorbeeld krediteure en laste voortspruitend uit afgeleide finansiële instrumente.

.115 Indien planbates kwalifiserende versekeringspolisse insluit wat die bedrag en tydsberekening van sommige van of al die voordele betaalbaar ingevolge die plan presies pas, word die billike waarde van daardie versekeringspolisse geag die huidige waarde van die verwante verpligtinge te wees, soos beskryf in paragraaf .64 (behoudens enige vermindering wat vereis word as die bedrae wat kragtens die versekeringspolisse ontvangbaar is, nie volledig verhaalbaar is nie).

Vergoeding

.116 Indien, en slegs indien, dit feitlik seker is dat 'n ander party sommige van of al die uitgawes wat nodig is om ʼn omskrewevoordeelverpligting te vereffen, sal vergoed, moet ʼn entiteit sy reg op vergoeding as ʼn afsonderlike bate erken. Die entiteit moet die bate teen billike waarde meet. In alle ander opsigte moet ʼn entiteit daardie bate op dieselfde manier as planbates

AERP 25

Uitgegee November 2009 46 Werknemersvoordele

hanteer. In die staat van finansiële prestasie kan die uitgawe ten opsigte van ʼn omskrewevoordeelplan aangebied word ná aftrekking van die bedrag wat vir vergoeding erken word.

.117 Soms is dit vir ʼn entiteit moontlik om op ʼn ander party, soos ʼn versekeraar, staat te

maak om ʼn gedeelte van of die volle bedrag wat nodig is om ʼn omskrewevoordeelverpligting te vereffen, te betaal. Kwalifiserende versekeringspolisse, soos omskryf in paragraaf .08, is planbates. ʼn Entiteit bring kwalifiserende versekeringspolisse op dieselfde manier in rekening as alle ander planbates, en paragraaf .116 is nie van toepassing nie (kyk paragraaf .48 tot .51 en .115).

.118 Indien ʼn versekeringspolis nie ʼn kwalifiserende versekeringspolis is nie, is daardie versekeringspolis nie ʼn planbate nie. Paragraaf .116 handel oor sulke gevalle: die entiteit erken sy reg op vergoeding kragtens die versekeringspolis as ʼn afsonderlike bate, eerder as ʼn aftrekking by die vasstelling van die omskrewevoordeellas wat ooreenkomstig paragraaf .64 erken word; in alle ander opsigte hanteer die entiteit daardie bate op dieselfde manier as planbates. Paragraaf .136(e)(ii) vereis dat die entiteit ʼn kort beskrywing openbaar maak van die verband tussen die vergoedingsreg en die verwante verpligting.

.119 Indien die reg op vergoeding ooreenkomstig ʼn versekeringspolis of ʼn regtens bindende ooreenkoms ontstaan wat presies strook met die bedrag en tydsberekening van sommige van of al die voordele betaalbaar ooreenkomstig ʼn omskrewevoordeelplan, word die billike waarde van die vergoedingsreg beskou as die huidige waarde van die verwante verpligting soos in paragraaf .64 beskryf (behoudens enige vermindering wat nodig sal wees indien die vergoeding nie ten volle verhaalbaar is nie).

Opbrengs op planbates

.120 Die verwagte opbrengs op planbates is een komponent van die uitgawe wat in die staat van finansiële prestasie erken word. Die verskil tussen die verwagte opbrengs op planbates en die werklike opbrengs op planbates is ʼn aktuariële wins of verlies; dit word ingesluit by die aktuariële winste en verliese op die omskrewevoordeelverpligting.

.121 Die verwagte opbrengs op planbates is gegrond op markverwagtinge aan die begin van die verslagdoeningstydperk vir opbrengste oor die hele gebruiksduur van die verbandhoudende verpligting. Die verwagte opbrengs op planbates weerspieël veranderinge in die billike waarde van planbates wat gedurende die verslagdoeningstydperk gehou word as gevolg van werklike bydraes wat in die fonds inbetaal is en werklike voordele wat uit die fonds uitbetaal is.

Voorbeeld wat paragraaf .121 verder toelig: Opbrengs op planbates

Op 1 Julie 20X7 was die billike waarde van planbates R10 000. Op 31 Desember 20X7 het

AERP 25

Uitgegee November 2009 47 Werknemersvoordele

die plan voordele van R1 900 betaal en bydraes van R4 900 ontvang. Op 30 Junie 20X8 was die billike waarde van planbates R15 000 en was die huidige waarde van die omskrewevoordeelverpligting R14 792. Aktuariële verliese op die verpligting vir 20X8 was R60.

Op 1 Julie 20X7 het die verslagdoenende entiteit die volgende ramings gemaak op grond van markpryse op daardie datum:

%

Rente- en dividendinkomste ná belasting betaalbaar deur die fonds 9.25

Gerealiseerde en ongerealiseerde winste op planbates (ná belasting) 2.00

Administratiewe koste (1.00)

Verwagte opbrengskoers 10.25

Vir 20X7 is die verwagte en werklike opbrengs op planbates soos volg: R

Opbrengs op R10 000 gehou vir 12 maande teen 10.25% 1 025

Opbrengs op R3 000 gehou vir ses maande teen 5% (gelykstaande met 10.25% jaarliks, sesmaandeliks saamgestel) 150

Verwagte opbrengs op planbates vir 20X8 1 175

Billike waarde van planbates op 30 Junie 20X8 15 000

Minus billike waarde van planbates op 1 Julie 20X7 (10 000)

Minus bydraes ontvang (4 900)

Voeg voordele betaal by 1 900

Werklike opbrengs op planbates 2 000

Die verskil tussen die verwagte opbrengs op planbates (R1 175) en die werklike opbrengs op planbates (R2 000) is ʼn aktuariële wins van R825. Hierdie aktuariële wins word in die staat van finansiële prestasie vir die jaar geëindig 30 Junie 20X8 erken.

Die verwagte opbrengs op planbates vir 20X9 sal gegrond wees op markverwagtinge op 1 Julie 20X9 vir opbrengste oor die hele gebruiksduur van die verpligting.

AERP 25

Uitgegee November 2009 48 Werknemersvoordele

.122 By die vasstelling van die verwagte en werklike opbrengs op planbates trek ʼn entiteit verwagte administratiewe koste af, buiten dié wat ingesluit is in die aktuariële aannames wat gebruik word om die verpligting te meet.

Oordrag van funksies en samesmeltings

.123 By die vasstelling van die bates en laste wat erken moet word in verband met na-aftreevoordele in ʼn oordrag van funksies tussen entiteite onder gemeenskaplike beheer, ʼn oordrag van funksies tussen entiteite nie onder gemeenskaplike beheer nie of ʼn samesmelting, neem ʼn entiteit die Standaarde van AERP oor Oordrag van Funksies tussen Entiteite onder Gemeenskaplike Beheer, Oordrag van Funksies tussen Entiteite nie onder Gemeenskaplike Beheer nie of Samesmeltings, soos toepaslik, in aanmerking.

Inkortings en aflossings

.124 ʼn Entiteit moet winste of verliese op die inkorting of aflossing van ʼn omskrewevoordeelplan erken wanneer die inkorting of aflossing plaasvind. Die wins of verlies op ʼn inkorting of aflossing moet die volgende insluit:

(a) enige gevolglike verandering in die huidige waarde van die omskrewevoordeelverpligting; en

(b) enige gevolglike verandering in die billike waarde van die planbates.

.125 Voor die vasstelling van die uitwerking van ʼn inkorting of aflossing moet ʼn entiteit die verpligting (en die verwante planbates, indien daar is) hermeet met gebruik van huidige aktuariële aannames (met inbegrip van huidige markrentekoerse en ander huidige markpryse).

.126 ʼn Inkorting vind plaas indien ʼn entiteit:

(a) óf aantoonbaar daartoe verbind is om die getal werknemers wat deur ʼn plan gedek word, beduidend te verminder;

(b) óf die bepalings van ʼn omskrewevoordeelplan wysig sodat ʼn beduidende element van toekomstige diens deur huidige werknemers nie langer vir voordele sal kwalifiseer nie, of slegs vir verminderde voordele sal kwalifiseer.

ʼn Inkorting kan voortspruit uit ʼn geïsoleerde gebeurtenis soos die sluiting van ʼn aanleg, die beëindiging van ʼn bedrywigheid of totnietmaking of opskorting van ’n plan, of ʼn vermindering in die mate waarin toekomstige salarisverhogings gekoppel is aan die voordele wat vir vorige diens betaalbaar is. Inkortings word dikwels aan ʼn herstrukturering gekoppel. Indien dit die geval is, moet ʼn entiteit ʼn inkorting op dieselfde tyd in rekening bring as in die geval van ʼn verwante herstrukturering.

.127 Indien ʼn planwysiging voordele verminder, is slegs die uitwerking van die vermindering vir toekomstige diens ʼn inkorting. Die uitwerking van enige vermindering vir vorige diens is ʼn negatiewe vorigedienskoste.

AERP 25

Uitgegee November 2009 49 Werknemersvoordele

.128 ʼn Aflossing kom voor indien ʼn entiteit ʼn transaksie aangaan wat alle verdere regs- of afgeleide verpligting vir 'n deel van of al die voordele wat ingevolge ʼn omskrewevoordeelplan verskaf word, uitskakel, byvoorbeeld indien ʼn enkelbedragkontantbetaling aan of namens plandeelnemers gemaak word in ruil vir hul regte om gespesifiseerde na-aftreevoordele te ontvang.

.129 In sommige gevalle verkry ʼn entiteit ʼn versekeringspolis om sommige van of al die werknemersvoordele ten opsigte van werknemersdiens in die huidige en voorafgaande verslagdoeningstydperke te befonds. Die verkryging van so ʼn polis is nie ʼn aflossing nie, dit wil sê indien die entiteit ʼn regs- of afgeleide verpligting behou (kyk paragraaf .48) om verdere bedrae te betaal indien die versekeraar nie die werknemersvoordele betaal wat in die versekeringspolis gespesifiseer word nie. Paragraaf .116 tot .119 handel oor die erkenning en meting van vergoedingsregte ooreenkomstig versekeringspolisse wat nie planbates is nie.

.130 ʼn Aflossing kom saam met ʼn inkorting voor indien ʼn plan so beëindig word dat die verpligting afgelos word en die plan ophou om te bestaan. Die beëindiging van ʼn plan is egter nie ʼn inkorting of aflossing indien die plan deur ʼn nuwe plan vervang word wat voordele bied wat in wese identies is nie.

Voorbeeld wat paragraaf .130 verder toelig: Die in rekening bring van ʼn inkorting sonder ʼn aflossing

Wetgewing vereis van ʼn entiteit om die regstreekse voorsiening van afvalversameling en afvalwegdoeningsdienste te staak. Werknemers van hierdie beëindigde segment sal geen verdere voordele verdien nie. Dit is ʼn inkorting sonder ʼn aflossing. Deur huidige aktuariële aannames (met inbegrip van huidige markrentekoerse en ander huidige markpryse) onmiddellik voor die inkorting te gebruik het die entiteit ʼn omskrewevoordeelverpligting met ʼn netto huidige waarde van R1 000 en planbates met ʼn billike waarde van R820. Die inkorting verminder die netto huidige waarde van die verpligting met R100 tot R900.

Die uitwerking van die inkorting is soos volg:

Voor die

inkorting

Inkortingswins Ná die

inkorting

Netto huidige waarde van die verpligting

R

1 000

R

(100)

R

900

Billike waarde van planbates (820) - (820)

Netto las wat in die staat van finansiële stand erken word

180

(100)

80

AERP 25

Uitgegee November 2009 50 Werknemersvoordele

Aanbieding

Verrekening

.131 ʼn Entiteit moet ʼn bate wat op een plan betrekking het, teen ʼn las wat op 'n ander plan betrekking het, verreken indien, en slegs indien, die entiteit:

(a) ʼn regtens afdwingbare reg het om ʼn surplus in een plan aan te wend om verpligtinge ingevolge die ander plan af te los; en

(b) voornemens is om óf die verpligtinge op ʼn netto grondslag af te los, óf die surplus in een plan te realiseer en sy verpligting kragtens die ander plan terselfdertyd af te los.

.132 Die verrekeningsmaatstawwe is vergelykbaar met dié wat in die Standaard van AERP oor Finansiële Instrumente vir finansiële instrumente tot stand gebring is.

Bedryfs-/niebedryfsonderskeid

.133 Sommige entiteite onderskei bedryfsbates en -laste van niebedryfsbates en -laste. Hierdie Standaard spesifiseer nie of ʼn entiteit bedryfs- en niebedryfsgedeeltes van bates en laste wat uit na-aftreevoordele voortspruit, moet onderskei nie.

Finansiële komponente van die koste van na-aftreevoordele

.134 Hierdie Standaard spesifiseer nie of ʼn entiteit huidigedienskoste, vorigedienskoste, rentekoste, verwagte opbrengs op planbates en aktuariële winste en verliese as komponente van ʼn enkele item van inkomste of uitgawes in die staat van finansiële prestasie self moet aanbied nie.

Openbaarmaking

.135 ʼn Entiteit moet inligting openbaar maak wat gebruikers van finansiële state in staat sal stel om die aard van sy omskrewevoordeelplanne en die finansiële gevolge van veranderinge in daardie planne gedurende die verslagdoeningstydperk te evalueer.

.136 ʼn Entiteit moet die volgende inligting oor omskrewevoordeelplanne openbaar maak:

(a) ʼn algemene beskrywing van die soort plan;

(b) ʼn rekonsiliasie van begin- en eindsaldo's van die huidige waarde van die omskrewevoordeelverpligting wat, indien toepaslik, die uitwerkings gedurende die verslagdoeningstydperk wat aan elkeen van die volgende toeskryfbaar is, afsonderlik aantoon:

(i) huidigedienskoste;

(ii) rentekoste;

(iii) bydraes deur plandeelnemers;

AERP 25

Uitgegee November 2009 51 Werknemersvoordele

(iv) aktuariële winste en verliese;

(v) wisselkoersveranderinge op planne wat in ʼn geldeenheid gemeet word wat verskil van die entiteit se aanbiedingsgeldeenheid;

(vi) voordele betaal;

(vii) vorigedienskoste;

(viii) entiteitskombinasies;

(ix) inkortings; en

(x) aflossings;

(c) ʼn ontleding van die omskrewevoordeelverpligting in bedrae wat voortspruit uit planne wat geheel en al onbefonds is en bedrae wat voortspruit uit planne wat volledig of gedeeltelik befonds is;

(d) ʼn rekonsiliasie van die begin- en eindsaldo's van die billike waarde van planbates en van die begin- en eindsaldo's van enige reg op vergoeding wat ooreenkomstig paragraaf .116 as ʼn bate erken word, met aantoning afsonderlik, indien toepaslik, van die uitwerkings wat gedurende die verslagdoeningstydperk aan elkeen van die volgende toeskryfbaar is:

(i) verwagte opbrengs op planbates;

(ii) aktuariële winste en verliese;

(iii) wisselkoersveranderinge op planne wat in ʼn geldeenheid gemeet word wat verskil van die entiteit se aanbiedingsgeldeenheid;

(iv) bydraes deur die werkgewer;

(v) bydraes deur plandeelnemers;

(vi) voordele betaal;

(vii) entiteitskombinasies; en

(viii) aflossings;

(e) ʼn rekonsiliasie van die huidige waarde van die omskrewevoordeelverpligting in (b) en die billike waarde van die planbates in (d) met die bates en laste wat in die staat van finansiële stand erken word, en met aantoning van ten minste:

(i) enige bedrag wat nie as ʼn bate erken word nie – vanweë die perk in paragraaf .68(b);

(ii) die billike waarde op die verslagdoeningsdatum van enige reg op vergoeding wat ooreenkomstig paragraaf .116 as ʼn bate erken word (met ʼn bondige beskrywing van die verbintenis tussen die reg op vergoeding en die verwante verpligting); en

(iii) die ander bedrae wat in die staat van finansiële stand erken word;

AERP 25

Uitgegee November 2009 52 Werknemersvoordele

(f) die totale uitgawe wat vir elkeen van die volgende in die staat van finansiële prestasie erken word, en die lynitem(s) waarby hulle ingesluit is:

(i) huidigedienskoste;

(ii) rentekoste;

(iii) verwagte opbrengs op planbates;

(iv) verwagte opbrengs op enige reg op vergoeding wat ooreenkomstig paragraaf .116 as ʼn bate erken word;

(v) aktuariële winste en verliese;

(vi) vorigedienskoste;

(vii) die uitwerking van enige inkorting of aflossing; en

(viii) die totale bedrag van die uitwerking van die perk in paragraaf .68(b);

(g) vir elke groot kategorie van planbates, waarby ingesluit is (maar wat nie beperk is nie tot) ekwiteitsinstrumente, skuldinstrumente, eiendom en alle ander bates, die persentasie van of bedrag wat elke groot kategorie van die billike waarde van die totale planbates uitmaak;

(h) die bedrae wat ingesluit is in die billike waarde van planbates vir:

(i) elke kategorie van die entiteit se eie finansiële instrumente; en

(ii) enige eiendom wat die entiteit okkupeer, of ander bates wat die entiteit gebruik;

(i) ʼn verhalende beskrywing van die grondslag wat gebruik word om die algehele verwagte opbrengskoers op bates te bepaal, met inbegrip van die uitwerking van die groot kategorieë planbates;

(j) die werklike opbrengs op planbates, asook die werklike opbrengs op enige reg op vergoeding, wat ooreenkomstig paragraaf .116 as ʼn bate erken word;

(k) die vernaamste aktuariële aannames wat soos op die verslagdoeningsdatum gebruik word, met inbegrip van, indien toepaslik:

(i) die diskontokoerse;

(ii) die grondslag waarop die diskontokoers vasgestel is;

(iii) die verwagte opbrengskoerse op enige planbates vir die verslagdoeningstydperke wat in die finansiële state aangebied is;

(iv) die verwagte opbrengskoerse vir die verslagdoeningstydperke wat in die finansiële state aangebied is op enige reg op vergoeding wat ooreenkomstig paragraaf .116 as ʼn bate erken word;

(v) die verwagte tempo van salarisverhogings (en van veranderinge in ʼn indeks of ander veranderlike wat in die formele of afgeleide

AERP 25

Uitgegee November 2009 53 Werknemersvoordele

bepalings van ʼn plan gespesifiseer word as die grondslag vir toekomstige voordeelverhogings);

(vi) tendenskoerse by mediese koste; en

(vii) enige ander wesenlike aktuariële aannames wat gebruik word;

moet ʼn entiteit elke aktuariële aanname in absolute terme openbaar maak (byvoorbeeld as ʼn absolute persentasie) en nie bloot as ʼn grens tussen verskillende persentasies of ander veranderlikes nie;

(l) die uitwerking van ʼn toename van een persentasiepunt en die uitwerking van ʼn afname van een persentasiepunt in die aanvaarde mediesekoste-tendenskoerse oor:

(i) die totaal van die huidigedienskoste en rentekostekomponente van netto periodieke mediese koste ná aftrede; en

(ii) die opgehoopte na-aftreevoordeelverpligting vir mediese koste;

vir die doel van hierdie openbaarmaking, moet alle ander aannames as konstant beskou word. Vir planne wat in ʼn hoëinflasie-omgewing bedryf word, moet die openbaarmaking die uitwerking van ʼn persentasietoename of -afname in die veronderstelde mediesekostetendenskoers van ʼn beduidendheid soortgelyk aan een persentasiepunt in ʼn lae-inflasieomgewing wees;

(m) die bedrae vir die huidige jaarlikse verslagdoeningstydperk en vorige vier jaarlikse verslagdoeningstydperke van:

(i) die huidige waarde van die omskrewevoordeelverpligting, die billike waarde van die planbates en die surplus of tekort in die plan; en

(ii) die ervaringsaansuiwerings wat voortspruit uit:

– die planlaste wat uitgedruk word as óf (1) ʼn bedrag óf (2) ʼn persentasie van die planlaste op die verslagdoeningsdatum; en

– die planbates wat uitgedruk word as óf (1) ʼn bedrag óf (2) ʼn persentasie van die planbates op die verslagdoeningsdatum; en

(n) die werkgewer se beste raming, sodra dit redelikerwys bepaal kan word, van bydraes wat na verwagting aan die plan betaal sal word gedurende die jaartydperk wat ná die verslagdoeningsdatum begin.

.137 Paragraaf .136(a) vereis ʼn algemene beskrywing van die tipe plan. Sodanige beskrywing onderskei byvoorbeeld uniformesalaris-pensioenplanne van eindsalaris-pensioenplanne en van na-aftree- mediese planne. Die beskrywing van die plan sluit informele praktyke in wat aanleiding gee tot afgeleide verpligtinge wat ingesluit is by die meting van die omskrewevoordeelverpligting ooreenkomstig paragraaf .62. Verdere besonderhede word nie vereis nie.

.138 Indien ʼn entiteit meer as een omskrewevoordeelplan het, kan openbaarmakings in totaal, afsonderlik vir elke plan, of in sodanige groeperings as wat as die nuttigste

AERP 25

Uitgegee November 2009 54 Werknemersvoordele

beskou word, gemaak word. Dit kan nuttig wees om groeperings deur middel van maatstawwe soos die volgende te onderskei:

(a) die geografiese ligging van die planne; of

(b) of die planne onderhewig is aan wesenlik verskillende risiko’s, byvoorbeeld deur uniformesalaris-pensioenplanne te onderskei van eindsalaris-pensioenplanne en van na-aftree- mediese planne.

Indien ʼn entiteit openbaarmakings in totaal vir ʼn groepering van planne voorsien, word sodanige openbaarmakings in die vorm van geweegde gemiddeldes of van betreklik eng bestekke voorsien.

.139 Paragraaf .31 vereis bykomende openbaarmakings oor multiwerkgewer-omskrewevoordeelplanne wat behandel word asof hulle omskrewebydraeplanne is.

.140 Indien dit deur die Standaard van AERP oor Openbaarmakings oor Verwante Partye vereis word, moet ʼn entiteit inligting openbaar maak oor:

(a) verwantepartytransaksies met na-aftreevoordeelplanne; en

(b) na-aftreevoordele vir sleutelbestuurspersoneel.

.141 Indien die Standaard van AERP oor Voorsienings, Voorwaardelike Aanspreeklikhede en Voorwaardelike Bates dit vereis, moet ʼn entiteit inligting openbaar maak oor voorwaardelike aanspreeklikhede wat uit na-aftreevoordeelverpligtinge voortspruit.

Ander langtermynwerknemersvoordele

.142 Ander langtermynwerknemersvoordele kan die volgende insluit:

(a) langtermynafwesighede met vergoeding, soos langdiens- of sabbatsverlof;

(b) ander langdiensvoordele;

(c) langtermyn-ongeskiktheidsvoordele;

(d) bonus-, aansporings- en prestasieverwante betalings wat betaalbaar is ná twaalf maande of langer ná die einde van die verslagdoeningstydperk waarin die werknemers die betrokke diens lewer;

(e) uitgestelde vergoeding wat betaal word ná twaalf maande of langer ná die einde van die verslagdoeningstydperk waarin dit verdien is; en

(f) vergoeding betaalbaar deur die entiteit totdat ʼn individu ʼn nuwe betrekking aanvaar.

.143 Die meting van ander langtermynwerknemersvoordele is nie gewoonlik onderhewig aan dieselfde mate van onsekerheid as die meting van na-aftreevoordele nie. Hierdie Standaard sluit ʼn weerlegbare vermoede in dat langtermynongeskiktheidsbetalings nie gewoonlik onderhewig is aan dieselfde graad van onsekerheid as die meting van na-aftreevoordele nie. Waar hierdie veronderstelling weerlê word, oorweeg die entiteit dit of sommige of alle

AERP 25

Uitgegee November 2009 55 Werknemersvoordele

langtermynongeskiktheidsbetalings ooreenkomstig paragraaf .57 tot .141 in rekening gebring moet word.

Erkenning en meting

.144 Die bedrag wat as ʼn las vir ander langtermynwerknemersvoordele erken word, moet die netto totaal van die volgende bedrae wees:

(a) die huidige waarde van die omskrewevoordeelverpligting op die verslagdoeningsdatum (kyk paragraaf .77);

(b) minus die billike waarde op die verslagdoeningsdatum van planbates (indien daar is) waaruit die verpligtinge regstreeks vereffen moet word (kyk paragraaf .113 tot .115).

By die meting van die las moet ʼn entiteit paragraaf .57 tot .123 toepas, met uitsluiting van paragraaf .64 en .74. ʼn Entiteit moet paragraaf .116 toepas by die erkenning en meting van enige reg op vergoeding.

.145 Vir ander langtermynwerknemersvoordele moet ʼn entiteit die netto totaal van die volgende bedrae as ʼn uitgawe of (behoudens paragraaf .68) as inkomste erken, buiten in die mate wat 'n ander Standaard die insluiting daarvan by die koste van ʼn bate vereis of toelaat:

(a) huidigedienskoste (kyk paragraaf .77 tot .104);

(b) rentekoste (kyk paragraaf .95);

(c) die verwagte opbrengs op enige planbates (kyk paragraaf .120 tot .122) en op enige reg op vergoeding wat as ʼn bate erken word (kyk paragraaf .116);

(d) aktuariële winste en verliese, wat onmiddellik erken moet word;

(e) vorigedienskoste, wat onmiddellik erken moet word; en

(f) die uitwerking van enige inkortings of aflossings (kyk paragraaf .124 en .125).

.146 Een vorm van ander langtermynwerknemersvoordele is langtermynongeskiktheidsvoordele. Indien die vlak van voordeel afhang van die lengte van diens, ontstaan ʼn verpligting wanneer die diens gelewer word. Meting van daardie verpligting weerspieël die waarskynlikheid dat betaling vereis sal word en die tydsduur waarvoor betaling na verwagting gemaak sal word. Indien die vlak van voordeel dieselfde is vir enige werknemer wat ongeskik raak ongeag jare diens, word die verwagte koste van daardie voordele erken wanneer ʼn gebeurtenis plaasvind wat ʼn langtermynongeskiktheid veroorsaak. Paragraaf .143 beklemtoon die moontlikheid dat langtermynongeskiktheidsvoordelebetalings onderhewig kan wees aan ʼn hoër graad van onsekerheid as ander langtermynwerknemersvoordele.

Openbaarmaking

AERP 25

Uitgegee November 2009 56 Werknemersvoordele

.147 Hoewel hierdie Standaard nie spesifieke openbaarmakings vereis oor ander langtermynwerknemersvoordele nie, kan ander Standaarde openbaarmakings vereis; byvoorbeeld, waar die uitgawe wat uit sulke voordele voortspruit, wesenlik is en dus ooreenkomstig die Standaard van AERP oor Aanbieding van Finansiële State openbaarmaking sal vereis. Waar dit deur die Standaard van AERP oor Openbaarmakings oor Verwante Partye vereis word, moet ʼn entiteit inligting oor ander langtermynwerknemersvoordele vir sleutelbestuurspersoneel openbaar maak.

Diensbeëindigingsvoordele

.148 Hierdie Standaard handel oor diensbeëindigingsvoordele afsonderlik van ander werknemersvoordele omdat die gebeurtenis wat tot ʼn verpligting aanleiding gee, eerder die diensbeëindiging is as werknemerdiens.

Erkenning

.149 ʼn Entiteit moet diensbeëindigingsvoordele as ʼn las en ʼn uitgawe erken indien, en slegs indien, die entiteit aantoonbaar verbind is tot:

(a) óf die beëindiging van die diens van ʼn werknemer of groep werknemers voor die gewone aftreedatum;

(b) óf die voorsiening van diensbeëindigingsvoordele as gevolg van ʼn aanbod wat gemaak is ten einde vrywillige oortolligverklaring aan te moedig.

.150 ʼn Entiteit is aantoonbaar verbind tot ʼn diensbeëindiging indien, en slegs indien, die entiteit ʼn gedetailleerde formele plan vir die diensbeëindiging het en daar nie ʼn realistiese moontlikheid van onttrekking bestaan nie. Die gedetailleerde plan moet minstens die volgende insluit:

(a) die ligging en funksie van en die benaderde getal werknemers wie se dienste beëindig sal moet word;

(b) die diensbeëindigingsvoordele vir elke posklassifikasie of funksie; en

(c) die tyd wanneer die plan in werking gestel sal word. Implementering moet so spoedig moontlik begin en die tydperk waarin implementering afgehandel moet word, moet van so ʼn aard wees dat wesenlike veranderinge aan die plan onwaarskynlik sal wees.

.151 ʼn Entiteit kan deur wetgewing, deur kontraktuele of ander ooreenkomste met werknemers of hul verteenwoordigers of deur ʼn afgeleide verpligting, gewoonte of begeerte om billik te handel, daartoe verbind wees om betalings aan werknemers te doen (of ander voordele te voorsien) indien die entiteit hul dienste beëindig. Sodanige betalings is diensbeëindigingsvoordele. Diensbeëindigingsvoordele is tipies enkelbedragbetalings, maar sluit soms ook die volgende in:

(a) verbetering van aftreevoordele of ander na-aftreevoordele, hetsy onregstreeks deur ʼn werknemervoordeelplan of regstreeks; en

AERP 25

Uitgegee November 2009 57 Werknemersvoordele

(b) salaris tot aan die einde van ʼn gespesifiseerde kennisgewingstydperk indien die werknemer geen verdere diens lewer wat ekonomiese voordele vir die entiteit inhou nie.

.152 Sommige werknemersvoordele is betaalbaar ongeag die rede vir die werknemer se diensverlating. Die betaling van sulke voordele is seker (behoudens enige vestiging of minimum diensvereistes), maar die tydsberekening van die betaling daarvan is onseker. Sodanige voordele, wat beskryf kan word as diensbeëindigingsvrywarings of beëindigingsgratifikasies, is na-aftreevoordele eerder as diensbeëindigingsvoordele en ʼn entiteit bring hulle as na-aftreevoordele in rekening. Sommige entiteite voorsien ʼn laer vlak van voordeel vir vrywillige diensbeëindiging op versoek van die werknemer (in wese ʼn na-aftreevoordeel) as vir onwillekeurige diensbeëindiging op versoek van die entiteit. Die bykomende voordeel betaalbaar by onwillekeurige diensbeëindiging is ʼn diensbeëindigingsvoordeel.

.153 Diensbeëindigingsvoordele bied nie aan ʼn entiteit toekomstige ekonomiese voordele nie en word onmiddellik as ʼn uitgawe erken.

.154 Indien ʼn entiteit diensbeëindigingsvoordele erken, moet die entiteit dalk ook ʼn inkorting in aftreevoordele of ander werknemersvoordele in rekening bring (kyk paragraaf .124).

Meting

.155 Indien die diensbeëindigingsvoordele meer as 12 maande ná die verslagdoeningsdatum betaalbaar word, moet dit verdiskonteer word met gebruik van die diskontokoers wat in paragraaf .91 gespesifiseer word.

.156 In die geval van ʼn aanbod om vrywillige oortolligverklaring aan te moedig, moet die meting van diensbeëindigingsvoordele gegrond wees op die getal werknemers wat die aanbod na verwagting sal aanvaar.

Openbaarmaking

.157 Indien daar onsekerheid is oor die getal werknemers wat ʼn aanbod van diensbeëindigingsvoordele sal aanvaar, bestaan daar ʼn voorwaardelike aanspreeklikheid. Soos vereis deur die Standaard van AERP oor Voorsienings, Voorwaardelike Aanspreeklikhede en Voorwaardelike Bates, maak ʼn entiteit inligting oor die voorwaardelike aanspreeklikheid openbaar tensy die moontlikheid van ʼn uitvloei in vereffenings gering is.

.158 Soos deur die Standaard van AERP oor Aanbieding van Finansiële State vereis, maak ʼn entiteit die aard en bedrag openbaar van ʼn uitgawe indien dit wesenlik is. Diensbeëindigingsvoordele kan ʼn uitgawe tot gevolg hê, wat openbaarmaking nodig kan maak ten einde aan hierdie vereiste te voldoen.

AERP 25

Uitgegee November 2009 58 Werknemersvoordele

.159 Indien dit deur die Standaard van AERP oor Openbaarmakings oor Verwante Partye vereis word, moet ʼn entiteit inligting oor diensbeëindigingsvoordele vir sleutelbestuurspersoneel openbaar maak.

Oorgangsbepalings

Aanvanklike aanvaarding van die Standaarde van AERP

.160 Die oorgangsbepalings wat by die aanvanklike aanvaarding van hierdie Standaard deur entiteite toegepas moet word, word in ('n) lasgewing(s) voorgeskryf. Die bepalings van hierdie Standaard moet met elke toepaslike lasgewing saamgelees word.

Wysigings aan Standaarde van AERP

.161 Paragraaf .08, .53 en .123 is gewysig deur die Verbeterings aan die Standaarde van AERP wat op 1 April 2014 uitgereik is. ʼn Entiteit moet hierdie wysigings terugwerkend toepas vir jaartydperke wat op of ná 1 April 2015 begin. Indien ʼn entiteit verkies om hierdie wysigings vroeër toe te pas, moet dit so openbaar gemaak word.

Datum van inwerkingtrede

Aanvanklike aanvaarding van die Standaarde van AERP

.162

'n Entiteit moet hierdie Standaard van AERP toepas vir finansiële jaarstate wat tydperke dek wat begin op of ná 'n datum wat deur die Minister van Finansies bepaal sal word in 'n regulasie wat ooreenkomstig artikel 91(1)(b) van die Wet op Openbare Finansiële Bestuur, Wet No. 1 van 1999, soos gewysig, gepubliseer sal word.

Entiteite wat reeds Standaarde van AERP toepas

.163 'n Entiteit moet wysigings aan hierdie Standaard van AERP toepas vir finansiële jaarstate wat tydperke dek wat op of ná 1 April 2015 begin. Vroeëre toepassing word aangemoedig. Indien 'n entiteit hierdie wysigings vir 'n tydperk toepas wat voor 1 April 2015 begin, moet hierdie feit openbaar gemaak word.

AERP 25

Uitgegee November 2009 59 Werknemersvoordele

Grondslag vir gevolgtrekkings

Hierdie grondslag vir gevolgtrekkings bevat die Raad op Rekeningkundige Standaarde (die Raad) se redes vir die aanvaarding of verwerping van bepaalde oplossings wat met die rekeningkundige verantwoording van werknemersvoordele verband hou. Hierdie grondslag vir gevolgtrekkings vergesel die Standaard van AERP oor Werknemersvoordele (AERP 25), maar is nie deel daarvan nie.

Erkenning van aktuariële winste en verliese

Metode waarvolgens aktuariële winste en verliese erken kan word

BC1. Die International Public Sector Accounting Standard 25 (IPSAS 25) oor Employee Benefits laat entiteite toe om aktuariële winste en verliese met gebruik van die volgende metodes te erken:

(a) met gebruik van ʼn 10%-korridormetode (wat die minimum bedrag van aktuariële winste en verliese is wat gedurende ʼn verslagdoeningstydperk erken behoort te word), wat die erkenning van aktuariële winste en verliese uitstel; en

(b) enige ander metode wat die vinniger erkenning van aktuariële winste en verliese tot gevolg kan hê. Entiteite word die opsie gebied van erkenning van hierdie winste en verliese buite surplus of tekort in die staat van veranderinge in netto bates/ekwiteit, ooreenkomstig die vereistes van IPSAS 1 oor die Aanbieding van Finansiële State.

BC2. In ʼn Besprekingsdokument wat gedurende 2008 deur die International Accounting Standards Board (IASB) uitgereik is, is te kenne gegee dat die uitstel van aktuariële winste en verliese onvanpas is, en dat aktuariële winste en verliese ten volle erken behoort te word in die jaar waarin hulle voorkom. Die IASB het die mening gehuldig dat volle erkenning van aktuariële winste en verliese om die volgende redes toepaslik is:

dit bied ʼn getroue weergawe van die entiteit se finansiële stand;

dit het tot gevolg dat bedrae in die finansiële state deursigtig en maklik verstaanbaar is; en

die uitskakeling van alternatiewe rekeningkundige hantering verhoog vergelykbaarheid.

Ervaring in die praktyk dui ook daarop dat die korridormetode moeilik is om toe te pas.

AERP 25

Uitgegee November 2009 60 Werknemersvoordele

BC3. Ten einde die verstaanbaarheid en vergelykbaarheid van finansiële state in die openbare sektor te verbeter, het die Raad tot die gevolgtrekking gekom dat die Standaard van AERP oor Werknemersvoordele slegs die volle erkenning van aktuariële winste en verliese behoort toe te laat in die jaar waarin hulle voorkom.

Aanbieding van aktuariële winste en verliese

BC4. Toe die Raad ʼn voorgestelde Standaard van AERP oor Werknemersvoordele bekendgemaak het, het hy die erkenning van aktuariële winste en verliese in die staat van veranderinge in netto bates vereis, in ooreenstemming met die beginsels in IPSAS 25. Sommige respondente het kommentaar gelewer oor hierdie voorgestelde beginsel en opgemerk dat aktuariële winste en verliese in ʼn staat vergelykbaar met die “Statement of Comprehensive Income” in die IFRS’e erken behoort te word en nie in die staat van veranderinge in netto bates nie. In IAS 19 oor Employee Benefits, waar ʼn entiteit kies om aktuariële winste en verliese ten volle te erken in die jaar waarin hulle voorkom, is dit toelaatbaar om daardie winste en verliese in die staat van omvattende inkomste te erken.

BC5. Aangesien daar geen ekwivalente staat van omvattende inkomste in óf die Standaard van AERP oor Aanbieding van Finansiële State óf in die ekwivalente IPSAS bestaan nie, het die Raad besin oor watter alternatiewe aanbiedingsbenaderings daar vir aktuariële winste en verliese wat uit omskrewevoordeelplanne voortspruit, in die openbare sektor bestaan.

BC6. By die bepaling waar aktuariële winste en verliese vir doeleindes van die Standaard van AERP oor Werknemersvoordele erken behoort te word, het die Raad die aard van aktuariële winste en verliese oorweeg in die konteks van die vereistes in die Standaard van AERP oor Rekeningkundige Beleide, Veranderinge in Rekeningkundige Ramings en Foute.

BC7. Om die verskillende komponente te meet wat met omskrewevoordeelverpligtinge en planbates verband hou, bv. huidigedienskoste, rentekoste en verwagte opbrengs op planbates, maak ʼn entiteit van ramings gebruik. Indien werklike gebeure en omstandighede verskil van die oorspronklike ramings wat gebruik is, ontstaan aktuariële winste en verliese.

BC8. Hierdie aktuariële winste en verliese verteenwoordig die hersiening van die ramings wat die bestuur aanwend by die aanvanklike erkenning van die verskillende inkomste- en uitgawekomponente van omskrewevoordeelverpligtinge en planbates. Gevolglik het die Raad dit oorweeg of aktuariële winste en verliese as ʼn verandering in rekeningkundige raming

AERP 25

Uitgegee November 2009 61 Werknemersvoordele

hanteer moet word en in die staat van finansiële prestasie erken moet word in die jaar waarin hulle voorkom ooreenkomstig die Standaard van AERP oor Rekeningkundige Beleide, Veranderinge in Rekeningkundige Ramings en Foute. Die Raad het ooreengekom dat erkenning van aktuariële winste en verliese in surplus of tekort konseptueel gesond is en het op hierdie grondslag ʼn hersiene konsep vir kommentaar en verdere oorweging uitgereik.

BC9. Respondente se sieninge oor die erkenning en meting van aktuariële winste en verliese in die staat van finansiële prestasie was verdeeld.

Die Raad het erken dat terwyl nóg die IPSASB nóg die IASB volledige erkenning van aktuariële winste en verliese in surplus of tekort vereis, dit vir die Raad gepas mag wees om volledige erkenning van aktuariële winste en verliese in surplus of tekort voor te skryf en wel om die volgende redes:

By die ontwikkeling van ʼn Standaard van AERP streef die Raad daarna om waar enigsins moontlik alternatiewe rekeningkundige behandelings uit te skakel. Die vereiste van die erkenning van aktuariële winste en verliese in surplus of tekort maak hierdie doelwit bereikbaar.

By die hersiening van IAS 19 het die IASB voorlopig ooreengekom om aktuariële winste en verliese in wins of verlies te erken op die grondslag dat hierdie winste en verliese ʼn verandering in raming verteenwoordig. Op dié grondslag het die Raad ooreengekom dat, selfs al sou hulle erkenning buite surplus of tekort toelaat, hierdie benadering van korte duur kan wees.

Die Raad het die erkenning van winste en verliese buiten surplus of tekort in ander Standaarde van AERP geminimaliseer, byvoorbeeld in die Standaard van AERP oor Finansiële Instrumente, op die grondslag dat veranderinge in die waardes van bates en laste in surplus of tekort erken moet word en in die staat van finansiële prestasie aangebied moet word.

BC10. As gevolg van hierdie faktore, gepaard met die Raad se rasionaal dat aktuariële winste en verliese konseptueel veranderinge in ramings is, is ooreengekom dat aktuariële winste en verliese ten volle in surplus of tekort erken behoort te word in die jaar waarin hulle voorkom. Hoewel die Raad erken het dat aktuariële winste en verliese beduidend kan wees vir ʼn entiteit se gerapporteerde resultate, kon hulle nie oortuig word dat hierdie argument ʼn konseptuele grondslag bied vir die erkenning van aktuariële winste en verliese buiten surplus of tekort nie.

BC11. Die Raad het ook ingestem dat enige bedrae wat uit die toepassing van die perke vir die bate-erkenningsplafon en enige aanspreeklikheid voortspruit, en veranderinge in daardie aanspreeklikheid wat voortspruit uit die uitwerking van

AERP 25

Uitgegee November 2009 62 Werknemersvoordele

enige minimumbefondsingsvereiste, ook in die staat van finansiële prestasie erken behoort te word.

Erkenning van vorigedienskoste

BC12. Vorigedienskoste spruit voort uit wysigings aan die bepalings van omskrewevoordeelplanne wat verhoogde of verlaagde voordele tot gevolg het wat toeskryfbaar is aan dienste wat reeds deur werknemers gelewer word. IPSAS 25 vereis dat vorigedienskoste soos volg erken word:

dat in die mate waarin die vorigedienskoste op gevestigde voordele betrekking het, dit onmiddellik erken word; en

dat in die mate waarin die vorigedienskoste op niegevestigde voordele betrekking het, dit op ʼn reguitlyngrondslag erken word tot tyd en wyl die voordele vestig.

BC13. Een van die Raad se doelwitte in die ontwikkeling van Standaarde van AERP is om die vereistes van die Standaarde waar toepaslik te vereenvoudig. As gevolg daarvan is die Raad van mening dat die in rekening bring van vorigedienskoste vereenvoudig kan word, wat ook kan lei tot vereenvoudigde vereistes wanneer die bate-erkenningsplafon bereken word.

BC14. Die Raad is van mening dat vorigedienskoste aanleiding gee tot ʼn toename (of afname) in die huidige verpligting ten opsigte van omskrewevoordeelplanne, en dat hierdie verhoogde (of verlaagde) voordele die gevolg is van dienste wat reeds deur werknemers gelewer is. As gevolg daarvan het die Raad ooreengekom dat vorigedienskoste in surplus of tekort erken moet word in die verslagdoeningstydperk waarin die plan gewysig is, ongeag of vestigingstydperke bestaan.

BC15. Die feit dat vorigedienskoste oor 'n tydperk vestig, dui daarop dat ʼn werknemer vir ʼn tydperk by die entiteit in diens moet wees om geregtig te wees op daardie bykomende voordele, of om deur die verminderde voordele geraak te word. Vorigedienskoste val aan werknemers toe danksy vorige diens wat gelewer is en nie dienste wat gedurende die vestigingstydperk gelewer moet word nie. Gevolglik raak die bestaan van ʼn vestigingstydperk die meting van die omskrewevoordeelverpligting eerder as die erkenning van verhoogde (of verminderde) voordele.

AERP 25

Uitgegee November 2009 63 Werknemersvoordele

Vergelyking met die International Public Sector Accounting Standard oor Employee Benefits (Januarie 2008)

Die Standaard van AERP oor Werknemersvoordele is hoofsaaklik ontleen aan die International Public Sector Accounting Standard oor Employee Benefits (IPSAS 25). Die belangrikste verskille tussen die Standaard van AERP oor Werknemersvoordele en die IPSAS oor Employee Benefits is soos volg:

Bepaalde terminologiese veranderinge is aangebring; so byvoorbeeld word ‘bonuses and profit sharing payments’ waarna in IPSAS 25 verwys word, in die Standaard van AERP ‘bonus-, aansporings- en prestasieverwante betalings’ genoem.

Verwysings na ʼn ‘period’ of ‘accounting period’ is gewysig tot ‘verslagdoeningstydperk’ waar dit die vereistes van die Standaard beter toegelig het.

Voorbeelde wat in die Application Guidance of IPSAS 25 vervat is, is in die teks van die Standaard opgeneem (ooreenkomstig IAS 19).

Voorbeelde is vir Suid-Afrikaanse omstandighede aangepas.

In bepaalde gevalle is verwysings na kontraktuele ooreenkomste uitgebrei om die konsep van ʼn ‘bindende reëling’ weer te gee.

IPSAS 25 laat toe dat aktuariële winste en verliese erken word met gebruik van óf die 10%-korridormetode, óf enige ander metode wat lei tot die vinniger erkenning van aktuariële winste en verliese. Waar 'n ander grondslag gebruik word, sou entiteite die gevolglike aktuariële winste en verliese buite surplus of tekort kon erken. Hierdie Standaard vereis dat entiteite aktuariële winste en verliese volledig erken in die jaar waarin dit in surplus of tekort voorkom.

IPSAS 25 skryf voor dat vorige diens erken moet word op grond daarvan of dit gevestig of niegevestig is. Hierdie Standaard skryf voor dat vorigedienskoste in surplus of tekort erken moet word in die verslagdoeningstydperk waarin die plan gewysig is.

Die Standaard bevat riglyne uit IFRIC 14 The Limit on a Defined Benefit Asset, Minimum Funding Requirements and their Interaction oor die vraag wanneer ʼn minimumbefondsingsvereiste tot ʼn aanspreeklikheid aanleiding gee.

IPSAS 25 laat entiteite binne verskillende jurisdiksies toe om die staatseffektekoers, korporatiewe effektekoers of die koers van 'n ander instrument te gebruik om die

AERP 25

Uitgegee November 2009 64 Werknemersvoordele

diskontokoers wat vir die diskontering van omskrewevoordeelverpligtinge gebruik moet word, vas te stel. Hierdie Standaard verwys bloot na die staatseffektekoers aangesien dit die koers is wat in Suid-Afrika gebruik word.

Oorgangsbepalings wat op hierdie Standaard van AERP van toepassing is, word anders hanteer as in IPSAS 25.

Die bylaes met verduidelikende voorbeelde oor befondsde omskrewevoordeelplan, verduidelikende openbaarmakings en verduideliking van die uitwerking van minimumbefondingsvereistes is uit hierdie Standaard weggelaat.