Die Nuwe Testament en mitologie: Die probleem van die ontmitologisering van die Nuwe-Testamentiese...

24
Die Nuwe Testament en mitologie: Die probleem van die ontmitologisering van die Nuwe-Testamentiese verkondiging (1941) Dr Gert Malan Werkswyse Die artikel poog om Bultmann self aan die woord te stel oor die opspraakwekkendste aspek van sy werk, naamlik sy ontmitologiseringsprogram. Sy 1941-artikel word opsommend weergegee. Ten slotte volg ’n waarderende evaluering. Bultmann se motivering Die grondmotief agter hierdie opstel van Bultmann was om die Nuwe- Testamentiese verkondiging vir moderne mense te ontsluit. Vir Bultmann was dit ondenkbaar dat moderne mense, met ’n werklikheidsverstaan gevorm deur wetenskap en tegnologie en ’n groot mate van beheer oor hulle lewens, die mitologies woordverkondiging van die Nuwe Testament sal verstaan en aanvaar. Dit sal ’n onaanvaarbare prysgawe van die intellek verg. Sy oplossing is om die Nuwe-Testamentiese verkondiging verstaanbaar te interpreteer, sodat dit die mense van sy tyd steeds eksistensieel sal aanspreek (Bultmann 1967:16-21). Mitiese wêreldbeeld 1

Transcript of Die Nuwe Testament en mitologie: Die probleem van die ontmitologisering van die Nuwe-Testamentiese...

Die Nuwe Testament en mitologie: Die probleem van die ontmitologisering van die Nuwe-Testamentiese verkondiging (1941)

Dr Gert Malan

Werkswyse

Die artikel poog om Bultmann self aan die woord te stel oor die

opspraakwekkendste aspek van sy werk, naamlik sy

ontmitologiseringsprogram. Sy 1941-artikel word opsommend

weergegee. Ten slotte volg ’n waarderende evaluering.

Bultmann se motivering

Die grondmotief agter hierdie opstel van Bultmann was om die Nuwe-

Testamentiese verkondiging vir moderne mense te ontsluit. Vir

Bultmann was dit ondenkbaar dat moderne mense, met ’n

werklikheidsverstaan gevorm deur wetenskap en tegnologie en ’n groot

mate van beheer oor hulle lewens, die mitologies woordverkondiging

van die Nuwe Testament sal verstaan en aanvaar. Dit sal ’n

onaanvaarbare prysgawe van die intellek verg. Sy oplossing is om die

Nuwe-Testamentiese verkondiging verstaanbaar te interpreteer, sodat

dit die mense van sy tyd steeds eksistensieel sal aanspreek

(Bultmann 1967:16-21).

Mitiese wêreldbeeld

1

Waarom sou die Nuwe-Testamentiese verkondiging dan vir moderne mense

onverstaanbaar wees?

Die eerste saak wat Bultmann (1967:15-6) noem, is die

drieverdieping mitiese wêreldbeeld wat die denkraamwerk vorm van die

NuweTestament. Dit behels nie alleen die idee dat die aarde die

middelste verdieping vorm, met die hel daaronder en die hemel daarbo

nie. Die aarde as leefwêreld van mense word beskou as oop vir

invloede van die onderste of boonste verdiepings. God en sy engele

kan van bo ingryp in mense se gedagtes en handelinge, maar net so

kan die Satan en sy demone van die onderwêreld af dit ook doen.

Daarby is hierdie tydvak in die mag van Satan, sonde en dood, en

stuur dit ’n spoedige einde tegemoet, wat sal voltrek as kosmiese

katastrofe. Dan volg die opstanding van die dooies en die oordeel

tot verlossing of verdoemenis.

Bultmann praat hier van ’n voormoderne mitologiese

werklikheidsverstaan waardeur gebeure en handelinge verklaar word

aan die hand van ingrype deur God of Satan. Só dink moderne

wetenskaplike mense nie oor die werklikheid nie, en hulle verklaar

ook nie hulle optrede of dinge wat met hulle gebeur so nie. Moderne

mense sal byvoorbeeld siekes dokter toe neem. Hulle sal nie siekte

beskou as die straf van God of die werk van Satan nie. Die mitologie

maak nie vir sulke mense sin nie.

Die heilsgebeure in mitologiese taal weergegee

Van groter belang is die probleem dat die wesenlike van die

verkondiging in die Nuwe Testament, die heilsgebeure, nie net teen

die verwysingsraamwerk van die drieverdieping mitiese wêreldbeeld

geteken word nie; dit word boonop in dieselfde mitiese taal beskryf,

wat volgens Bultmann (1967:15-16) vir hedendaagse mense nie

verstaanbaar is nie. So verkondig die Nuwe Testament:

2

Die laaste dae het aangebreek.

In die volheid van die tyd het God sy Seun gestuur.

Die Seun, pre-eksistente God, verskyn op aarde as ’n mens.

Met sy kruisdood word Hy plaasvervangend tot sondaar gemaak.

So bring Hy versoening vir mense se sonde.

Sy opstanding is die begin van die kosmiese katastrofe

waardeur die dood oorwin word, wat deur Adam gekom het.

Die demoniese magte het hulle krag verloor.

Die opgestane Heer word verhoog tot die regterhand van God.

Hy word Heer en Koning gemaak.

Hy sal terugkeer op die wolke om finaal die oordeel en

verlossing te voltrek.

Met sy koms sal die opstanding van die dooies en die

eindoordeel plaasvind.

Sonde, dood en alle lyding sal ophou.

Die gemeenskap van gelowiges het aan Christus deel deur die

Doop en Nagmaal, en sal aan die verlossing deelkry mits hulle

volhard.

Gelowiges ontvang nou reeds die eerste vrugte hiervan, naamlik

die Heilige Gees as waarborg dat hulle kinders van God is en

sal opstaan uit die dood.

Bultmann (1967:16) wys daarop dat hierdie baie bekende inhoude van

die evangelie in mitiese taal geklee is, wat teruggevoer kan word na

die mitiese werklikheidsverstaan en spreekwyse van die Joodse

apokaliptiek en die Gnostiese verlossingsmite. Nou is die vraag vir

Bultmann of die verkondiging, wat geloof van lidmate vra, eintlik

vra dat lidmate hierdie vergange mitiese prentjie van die

werklikheid moet aanvaar as hulle werklikheid. Indien nie, is die

wesensvraag of die Nuwe Testament dan ’n waarheid bevat wat, los van

hierdie wêreldbeeld as verwysingsraamwerk, verkondig kan word.

3

Indien dit die geval is, het die teologie die taak om die

Christusverkondiging te ontmitologiseer.

Wat mites tot uitdrukking bring

Vir Bultmannverklaar mites die kragte wat op mense inwerk en hulle

lewens begrens, as bonatuurlik. So word ’n mitiese kosmologie of

wêreldbeskouing daargestel wat geld as verklarende

verwysingsraamwerk waardeur mense ’n greep op die bonatuurlike kry.

Dit gebeur omdat mites oor die bonatuurlike in menslike of wêreldse

terme praat. So word die bonatuurlike geobjektiveer tot die

ondermaanse, en daarmee tot iets wat beheer kan word (vgl. Bultmann

1967:23).

Hierdie objektiverende voorstellings van mites versluier en

belemmer die ware intensie van die mite, naamlik om die begrensdheid

van menslike eksistensie tot uitdrukking te bring. Die oortuiging

wat in mites na vore kom, is dat die bekende en verbygaande wêreld

sy oorsprong en betekenis vind in die bonatuurlike wat buite die

bekende en verganklike bestaan. Menslike bestaan in hierdie sigbare

werklikheid word dus voortdurend beheer en bedreig deur bonatuurlike

magte wat dit begrond en begrens. Daarmee saam druk mites uit dat

mense nie in beheer is van hulle lewens en lotgevalle nie, maar

uitgelewer is aan of afhanklik is van die bonatuurlike magte wat die

werklikheid beheer (Bultmann 1967: 22-23).

Mites het dus nie in die eerste plek die bedoeling om ’n

objektiewe prentjie van die werklikheid daar te stel nie, maar om

aan te dui hoedat mense hulleself verstaan binne hulle leefwêreld.

Om hierdie rede behoort mites nie in kosmologiese terme

geïnterpreteer te word nie, maar in antropologiese terme – of beter

nog, in eksistensiale terme. Om oor die buitewêreldse, die

bonatuurlike te praat, beteken om oor die geheel onbekende te praat.

Die enigste manier om dit te doen, is om daaroor te praat na

4

analogie van die bekende, die ondermaanse.Sodoende word die

bonatuurlike magte gebring tot binne mense se bekende leefwêreld,

emosies, motiewe en moontlikhede. So praat mites byvoorbeeld van die

wêreld as ’n wêreldeier of ’n wêreldboom, waarmee mense hulle

samelewingsorde en gebeure daarbinne verklaar en motiveer. Ten einde

mites se bedoeling bloot te lê, naamlikom menslike eksistensie tot

uitdrukking te bring, moet die objektiverende spreekwyse van mites

wat hierdie bedoeling versluier en belemmer, eksistensiaal

geïnterpreteer (ontmitologiseer) word ten einde te verstaan hoedanig

fasette van menslike eksistensie daarmee belig word (Bultmann

1967:22-23).

Ontmitologisering

Die bedoeling daarmee

Miskien is dit jammer dat Bultmann juis die term “ontmitologisering”

gebruik het. Morfologies beskou, suggereer die voorvoegsel “ont-”

dat iets weggeneem word,en die woordstam dui aan dat dit die mite

is. Die indruk word geskep dat ontmitologisering die wegsny van die

mitiese spreekwyse is (Malan 2000:1108). Dit was juis nie Bultmannse

bedoeling nie. Dit is daarom jammer dat die benaming van sy

hermeneutiese program waarskynlik grootliks bygedra het tot al die

agterdog en misverstand oor die aard en bedoeling daarvan.

Die bedoeling met ontmitologisering is om die mitologie na sy

ware intensie te interpreteer, naamlik as uitdrukking van menslike

eksistensie. Daarom wil ontmitologisering niks anders wees nie as

eksistensiale interpretasie. In hierdie opsig steun Bultmann (1967:26-27) op

die werk van Hans Jonas, wat die Gnostiese verkondiging in

eksistensiale terme geïnterpreteer het. Ontmitologisering van die

Nuwe-Testamentiese verkondiging het dus nie met die wegsny of afskil

van die mitologie te doen nie, maar met die vertaling van die

5

dualistiese en apokaliptiese mitiese spreekwyse in eksistensiale

terme ten einde die selfverstaan wat daarin vervat word, tot spreke

te bring.

Ontmitologisering van die Christelike synsverstaan (Seinsverständnis)

Die pertinente vraag is daarom of die Nuwe-Testamentiese dokumente

wel vir ons ’n selfverstaan bied wat ons eksistensie eg bevraagteken

en van ons ’n eksistensiële beslissing verg (Bultmann 1967:27).

Bultmann meen wel so en interpreteer dan fasette van die mities

verwoorde Nuwe-Testamentiese verkondiging kortliks in eksistensiale

terme. Hy onderskei tussen menslike bestaan sonder geloof en

menslike bestaan vanuit geloof.

Menslike bestaan sonder geloof

Hoe lyk menslike bestaan sonder geloof? Hy verduidelik die saak aan

die hand van die begrippe kosmos (wêreld), sarks (vlees) en merimnān

(kommer, besorgdheid).

Hierdie wêreld (kosmos) is wel deur God geskep, maar is saam

met mense uitgelewer en verval onder die mag van die Satan. Tog bly

mense self verantwoordelik vir hulle sonde en sal voor God as regter

rekenskap moet gee. Satan se mag is op vreemdsoortige manier beperk

deur God. Hoewel die dood in die wêreld gekom het deur Adam, die

eerste sondaar, is die dood die loon van elke mens se eie sonde.

Adam was die eerste mens, die eerste vlees (sarks). “Vlees” dui

op die menslike leefwêreld, dus op die sfeer van die sigbare,

beskikbare, beheerbare en meetbare; kortom: die verganklike. Sedert

Adam swig alle mense voor die versoeking om vanuit hierdie sigbare,

6

verganklike werklikheid te leef, eerder as vanuit die onsigbare en

onbeheerbare. “Vlees” verteenwoordig sodoende ’n mag wat beheer

neem van mense, omdat mense dit tot basis van hulle bestaan maak,

ongeag of hulle verantwoordelik of onverantwoordelik sou leef. Selfs

hulle verdienstelikheid is gebonde aan die verganklike en daarom van

geen waarde nie, net soos enige iets anders wat mense verwerf en

waarop hulle vertrou.

Eie aan die verganklikheid is die menslike kommer of

besorgdheid (merimnān) om sekuriteit daar te stel. Na gelang van

elkeen se moontlikhede en suksesse hiermee, kom daar ’n bewussyn van

sekuriteit, waarop mense uiteindelik roem (kauchasthai). Hierdie

gesindheid is eintlik ondenkbaar, gesien die verganklikheid van alle

aardse sekuriteite. Maar juis op hierdie manier verloor mense hulle

“lewe”, hulle outentieke eksistensie, en word hulle prooi van die

verganklike dinge waarop hulle vertrou het en gemeen het om te

beheer. Nou beheer dit húlle lewens en is hulle slawe in diens

daarvan. Dit is met hierdie gesindheid van mense dat die wêreld, wat

God se skepping vir ons kon wees, die geaardheid kry van die wêreld

in opposisie met God, en word die wêreldse dinge waarop ons vertrou,

magte wat van ons beheer neem.

Wat is die gevolge van hierdie gesindheid van mense? Hulle

word, soos die wêreldse dinge waarop hulle vertrou, uitgelewer aan

verganklikheid en dood. Dié wat leef in vertroue op dit wat

beheerbaar en verbygaande is, maak hulleself afhanklik daarvan.

Omdat alle mense dit doen, kom hulle met mekaar in konflik en

probeer elkeen homself beveilig teen ander. Hieruit ontstaan naywer,

woede, jaloesie en stryd, maar ook verdrae en ooreenkomste vir

samewerking en algemeen geldende waardeoordele en standaarde.

Hierdeur skep mense ’n verwysingsraamwerk waaraan ons onsself

voortdurend meet en wat die waardestelsel herbevestig. Só versterk

mense die angsvolle ervaring wat ons vir mekaar geheimhou, naamlik

7

hoedat ons ervaar dat alles, ook ons eie lewe, besig is om van ons

af weg te gly (Bultmann 1967:27-29).

So lyk die eksistensiale interpretasie van die Nuwe-

Testamentiese verkondiging oor die mens se bestaan sonder geloof.

Dit is hierdie magte wat die Nuwe Testament as mitologiese magte

uitbeeld (Bultmann 1967:27-29).

Menslike bestaan vanuit geloof

Hierteenoor, in eksistensiale terme vertaal, verkondig die Nuwe

Testament lewe in vertroue op en vanuit die Onsigbare. Dit kom neer

op die prysgawe van alle selfgemaakte sekuriteite. Dit is lewe

vanuit geloof of lewe “volgens die Gees”. Hierdie soort lewe word

vir mense ’n moontlikheid deur geloof in God se “genade”, menende

die vertroue dat die Onsigbare, Onbekende en Onbeheerbare mense

ontmoet as liefde wat vir hulle lewe en daarmee ’n toekoms skenk,

eerder as die dood (Bultmann 1967:29).

Bultmann verstaan God se genade as sondevergewend. Hy

verduidelik sonde in eksistensiële terme as daardie gesindheid van

mense om hulle lewens te probeer verseker en beveilig deur

sekuriteite daar te stel, daaraan vas te klou en uiteindelik

daarvoor te leef. Juis omdat hierdie gesindheid mense afsluit van

die Onsigbare en die toekoms waarin God Homself aan ons gee, is dit

sonde (Bultmann 1967:29).

Eksistensiaal verstaan, bevry God se vergifnis mense dus van

hierdie afsluiting van God en verknegting aan die verganklike, sodat

hulle vry kan word vir God se toekoms vir hulle. Geloof (wat die

vergifnis aanvaar) is om oop te wees vir God se toekoms. Geloof is

daarom ook gehoorsaamheid, naamlik as die wegdraai van die self,

bedoelende prysgawe van die self en sy verknogtheid aan sekuriteite.

Geloof is die afsweer van enige pogings om self vir God aanvaarbaar

te wees of om uit onsself ware lewe daar te stel. Geloof is radikale

8

onderwerping aan God as die Een wat dooies opwek en dinge daarstel

wat nie voorheen bestaan het nie. Geloof verwag alles van God en

niks van onsself nie. Daarmee word mense bevry van gewaande aardse

sekuriteite en die valse vryheid wat dit beloof (Bultmann 1967:29).

Hierdie vryheid is nie dieselfde as asketisme nie. Gelowiges

onttrek nie aan die wêreld nie. Hulle neem deel aan die dinge in

hulle leefwêreld, maar asof op ’n afstand, asof nie. Gelowiges is

nie meer slawe van aardse dinge nie. Hierdie wêreld is vir die

gelowiges gekruisig en hulle vir die wêreld. Alles van die wêreld

het vir hulle na die agtergrond verskuif as dinge wat geensins

betekenis in sigself het nie. Bultmann (1967:19) gebruik die term

Indifferenz om gelowiges se gesindheid jeens wêreldse dinge mee uit te

druk. Die krag van gelowiges se nuwe lewe kom tot uitdrukking in

hulle swakheid, lyding en dood. Eers wanneer hulle bewus word van

hulle eie nietigheid, dat hulle op sigself niks is nie, kan hulle

van Godsweë alles hê en wees (Bultmann 1967:19).

Om só te leef, is om eskatologies te leef, om ’n nuwe mens te

wees. Hiermee is die Gnostiese en Joodse apokaliptiese eskatologie

ontmitologiseer, deurdat die dag van oordeel alreeds aangebreek het.

Die Johannes-evangelie maak die radikale gevolgtrekking dat die

oordeel oor die wêreld nie ’n toekomstige kosmiese gebeure sal wees

nie, maar reeds met Jesus se oproep tot geloof gekom het. So

elimineer die Johannes-evangelie in geheel die apokaliptiese

eskatologie. Gelowiges het reeds die lewe, en het uit die dood na

die lewe oorgegaan. Uiterlik het niks verander in hulle verhouding

met die wêreld nie, maar vir hulle is die wêreld nie meer van belang

nie (Bultmann 1967:20).

Ook die Gnostiese eskatologie word so oorkom. Gelowiges kry nie

’n nuwe natuur nie, hulle pre-eksistente natuur word nie bevry nie,

en hulle hemelwaartse sielereis word nie gewaarborg nie. Wat hulle

in geloof het, is nie ’n gegewenheid, ’n gewaarborgde toestand,

sodat libertinismekan volg of angsvallige asketisme dit moet beskerm

9

nie. Nee, naas die indikatief van geloof, staan die imperatief.

Geloof is nie ’n eenmalige, eens-en-vir-altyd-beslissing nie, maar

moet in elke nuwe konkrete situasie bevestig word deur die

geloofsbeslissing opnuut te neem. Die vryheid van geloof is die

vryheid om telkens weer die geloofsbeslissing te maak. Geloof is

daarom nie om ’n houvas te kry nie, maar om in ’n houvas te wees.

Dit is om konstant en doelgerig op pad te wees tussen die alreeds en

die nog nie (Bultmann 1967:20).

Ontmitologisering van die Heilsgebeure

Christelike verstaan van lewe sonder Christus

Tot dusver het Bultmann die Christelike synsverstaan ontmitologiseer

deur dit in eksistensiale terme te beskryf. Nou vra hy of dit wel in

ooreenstemming met die Nuwe-Testamentiese verkondiging gedoen is. Sy

antwoord is dat een saak nie na vore gebring is nie, naamlik dat in

die Nuwe Testament geloof ook geloof in Christus is. Die Nuwe Testament

verkondig dat geloof bekendgemaak is, gekom het. Geloof het eers ’n

moontlikheid geword weens die Christusgebeure. Geloof as gehoorsame

oorgawe aan God en as innerlike vryheid van die wêreld is alleen

moontlik deur geloof in Christus (Bultmann 1967:31).

Die deurslaggewende vraag is nou of hierdie aanspraak ’n

mitologiese res is wat geëlimineer of ontmitologiseer moet word, met

ander woorde, of die Christelike synsverstaan gerealiseer kan word

sonder Christus. Bultmann (1967:32-33) verwys na sodanige pogings in

die filosofie (byvoorbeeld Graaf York van Wartemburg, Karl Jaspers

en Martin Heidegger) en oordeel dat die filosofie op sy eie oor

menslike eksistensie waarneem, wat ook in die Nuwe Testament tot

uitdrukking kom. Hy sonder Heidegger se eksistensiale analise van

menslike eksistensie uit as ’n uitnemende profane voorstelling van

die Nuwe-Testamentiese siening daarvan: angsvolle eksistensie wat

10

voortdurend moet kies tussen sigself verloor aan die voorhande

wêreld of outentieke eksistensie, deur alle sekuriteite prys te gee

en vry te wees vir die toekoms.

Vir Bultmann (1967:33-34) is die vraag dus nie of die aard van

menslike eksistensie sonder die Nuwe Testament verstaan kan word

nie. Die vraag is of mense se outentieke eksistensie sal realiseer

bloot omdat dit aan hulle verduidelik word en hulle daartoe opgeroep

word, soos die filosofie meen. Dit is op hierdie kritieke punt dat

Bultmann stel dat die Nuwe Testament die vraag negatief antwoord:

Outentieke eksistensie kan alleen realiseer deur die bevrydende daad

van God, naamlik die verlossingsgebeure wat Christus verwesenlik het

(Bultmann 1967:35). Sonder hierdie verlossingsdaad van God is die

mens se situasie desperaat (verzweifelt).

Bultmann (1967:36) maak dit duidelik dat die Nuwe Testament met

gelowiges praat, dus met mense wat die beslissing gemaak het om God

se verlossingsdaad in hulle eksistensie te laat plaasvind. Mense

herken buite die Nuwe Testament om hulle nie-outentieke eksistensie,

wat Bultmann vervallenheid (Vervallenheit) noem, omdat kennis van

outentieke bestaan deel is van menslike eksistensie. Die belangrike

punt is dat outentisiteit (Eigentlichkeit) nie ’n natuurlike, menslike

eienskap is waaroor ons beskik sodat ons dit kan verwesenlik, soos

die filosofie meen nie. Die Nuwe Testament leer dat mense juis hulle

outentisiteit verloor het en dat hulle kennis van outentisiteit

vervals word deur die idee dat mense oor outentisiteit kan beskik.

Met die begrip vervallenheid dui Bultmann aan dat alle pogings van

mense om outentiek te eksisteer, onsuksesvol sal wees omdat dit

steeds die pogings van vervallenes is wat nie self aan hulle

vervallenheid kan ontkom nie (Bultmann 1967:37).

Die Nuwe Testament noem hierdie toedrag van sake sonde, en

Bultmann beklemtoon veral die mens se aanspraak om self (eigenmächtig)

outentiek te kan leef as die wesenlike aard van sonde (Bultmann

1967:38). Bultmann beskryf hierdie selfvertroue (Eigenmächtigkeit) as

11

ondankbaarheid jeens God, waarmee mense hulleself afsluit van die

moontlikheid om outentiek te eksisteer, naamlik deur onderwerping

aan God. Outentieke eksistensie is nie ’n taak wat die mens kan

bemeester nie, maar ’n geskenk van God wat mense bevry om outentiek

te kan eksisteer. Omdat hierdie selfvertroue so wesenlik deel

uitmaak van menswees, beteken die verlossingsdaad van God dat ons in

wese van onsself bevry word (Bultmann 1967:38). Die mens is so

vervalle dat niemand eens hulleself aan God kan onderwerp nie al

probeer hulle ook hoe hard. Tot outentieke bestaan kan ’n mens

alleen maar bevry word. Presies dít verkondig die Nuwe Testament en

die Christusgebeure: Waar ons nie self kon optree nie, het God vir

ons opgetree (Bultmann 1967:38-39).

Dit beteken dat vergifnis van sonde nie juridies verstaan moet

word nie. Dit is nie die blote afskryf van skuld of straf sodat

menslike bestaan onveranderd kan bly nie. Vergifnis is eerder die

bevryding van daardie mag wat ons tot hiertoe gevange gehou het.

Vergifnis is dus die bevryding tot gehoorsaamheid. Die imperatief

staan langs die indikatief. Vergifnis bevry ons ook om onsself aan

ander te onderwerp. Eskatologiese (outentieke) eksistensie word vir

mense moontlik omdat God opgetree het en mense bevry het van die

houvas van hierdie wêreld deur mense nuut te maak. Hierdie bevryding

kom alleen deur die Christusgebeure en is die bekendmaking van God

se liefde. Alleen geloof in hierdie liefde van God maak mense vry

van hulleself en oop vir God se toekoms. Christelike geloof is

daarom altyd geloof in Christus as die bekendmaking van God se

liefde (Bultmann 1967:39).

Die vraag wat nou volg, is of daar hiermee ’n beperking op die

ontmitologisering van die Nuwe-Testamentiese verkondiging gekom het.

Het ons hier voor ’n mite te staan gekom, of voor ’n gebeurtenis wat

mitologiese karakter toon? Die vraag is dus of die volgende

uitspraak ’n mitologiese aanspraak is: Die verandering tot mense wat

bevry is van hulleself om outentiek te lewe, is slegs moontlik as ’n

12

daad van God, en geloof is alleen geloof in die liefde van God wat

bekend gemaak is in die Christusgebeure.

Die Christusgebeure

Die vraag aan die orde is derhalwe of die bekendmaking van God se

liefde deur die Christusgebeure ’n mitiese gebeure is.

Die probleem rondom ontmitologisering van die Christusgebeure

Bultmann stel dit onomwonde dat die Nuwe Testament die

Christusgebeure as ’n mitiese gebeure voorstel. Die eintlike vraag

is of dit so voorgestel hoef te word, en of die Nuwe Testament nie

reeds self vir ons ontmitologiserende interpretasie voorsien nie

(Bultmann 1967:40-41).

Die vervlegtheid van die mitiese voorstellings oor die pre-

eksistente, maagdelik-gebore Seun van God met die historiese Jesus

van Nasaret, bring Bultmann by die vraag of die mitiese

voorstellingswyse nie die bedoeling het om die betekenis van die

historiese Jesus weer te gee nie: Die Verlosser en sy oorsprong is

nie te verstaan vanuit die konteks van hierdie wêreld nie, maar

vanuit die ewigheid (Bultmann 1967:41). Bultmann sluit af deur die

kruis en opstanding ontmitologiserend te interpreteer.

Die kruis

Moet die kruis van Christus slegs as mitiese gebeure verstaan word,

of is dit moontlik om die betekenis daarvan te verstaan ook as

historiese gebeure, wat tegelyk die verlossingsgebeure is?

Die Nuwe Testament teken beslis die kruisgebeure as mities: Die

gekruisigde is die pre-eksistente Seun van God wat mens word en

daarom sondeloos is. Hy is die offer deur wie se bloed ons sonde

13

versoen word. Hy dra plaasvervangend die wêreld se sonde, deur die

dood as straf vir sonde op Hom te neem. So bevry Hy ons daarvan

(Bultmann 1967:41-42).

Bultmann meen dat hierdie voorstelling van die kruisgebeure,

wat gedagtes oor die offerkultus vermeng met ’n juridiese

satisfaksieteorie, nie meer vandag aanvaarbaar is nie. Dit sê ook

nie alles wat oor die kruisgebeure gesê behoort te word nie. Al wat

dit aandui, is dat deur vergifnis die straf vir sonde weggeneem is.

Meer behoort gesê te word, naamlik dat die kruisgebeure gelowiges

bevry van die mag van sonde wat hulle domineer (Bultmann 1967:42).

Sodoende word dit duidelik dat die historiese gebeure verhef word

tot kosmiese gebeure en die kruisgebeure die oordeel word oor die

wêreld. Deur toe te laat dat Jesus gekruisig word, het God die kruis

daargestel as kruis vir ons. Dan beteken geloof in die kruis van

Christus, om dit as jou kruis te aanvaar en saam met Christus gekruisig

te word, en nie as ’n mitiese gebeure buite ons, of as objektief

waarneembare gebeure wat God tot ons krediet reken nie. Die

beslissende betekenis van die kruisgebeure is dat dit die

geskiedenis transformeer omdat dit die eskatologiese gebeure is, wat

in en anderkant die grense van tydreik. Vir die gelowiges is die

betekenis van die kruisgebeure in die hede ’n konstante werklikheid

(Bultmann 1967:42).

Dit word vir gelowiges werklikheid deur die sakramente: die

Doop beteken om saam met Christus gekruisig te word en te sterf.

Nagmaalgangers kry deel aan Christus se liggaam en bloed, dus aan

Christus se sterwe. Ook in die gewone lewe is die kruis van Christus

aanwesig, omdat almal wat aan Christus behoort, die vlees met al sy

hartstog en begeertes gekruisig het. Hierby word ingesluit dat vrees

vir lyding oorkom word deurdat gelowiges vrykom van die wêreld deur

lyding te aanvaar en so die dood van Christus in hulle liggaam te

dra. Sodoende bly die kruisgebeure ’n konstante werklikheid en is

dit nie beperk tot iets van die verlede nie. Bultmann se

14

gevolgtrekking is dat die kruisgebeure as verlossingsgebeure nie

mitiese gebeure is nie maar historiese gebeure, wat sy oorsprong het

in die historiese kruisiging van Jesus van Nasaret. Die mitiese

inkleding wil niks anders wees nie as aanduiding van die

belangrikheid van die historiese gebeure. Dit is in terme van

hierdie betekenis van die kruisgebeure, dat die verkondiging daarvan

voortdurend toehoorders afvra of hulle bereid is om hierdie

betekenis toe te eien en saam met Christus gekruisig te word

(Bultmann 1967:43).

Bultmann vra of dit van deurslaggewende belang is dat die kruis

juis die kruis van Christus is. Hy stel dat dit vir die eerste

gelowiges so was, want hulle het Jesus persoonlik geken. Met ons is

dit anders. As gebeure is dit nie vir ons gebeure binne ons eie

lewens nie. Ons ken dit alleen danksy die historiese berigte

daaroor. Bultmann meen dat die Nuwe Testament nie die betekenis van

Jesus se kruis vanuit sy historiese lewe aandui sodat historiese

navorsing dit kan reproduseer nie. Die Gekruisigde word verkondig

as die Opgestane. Kruis en opstanding vorm ’n eenheid.

Die opstanding

Wat die opstanding van Jesus betref, vra Bultmann of ons hier te

make het met ’n suiwer mitiese gebeure. Hy stel dat die opstanding

nie ’n historiese gebeure (historisches Ereignis) is nie. Die betekenis

van die opstanding kan dus nie histories vasgestel word nie. Daarom

vra Bultmann of die opstanding enigsins anders beskou kan word as

dat dit uitdrukking van die betekenis van die kruisgebeure is. Dit

sê tog niks anders nie as dat die kruisgebeure nie die dood van ’n

gewone sterfling was nie, maar God se bevrydende oordeel oor die

wêreld, wat ook die dood van sy krag beroof het. As kosmiese gebeure

vorm die kruis en opstanding ’n eenheid, waardeur die moontlikheid

van ware lewe geopen word. Die opstanding is egter nie te beskou as

15

verifieerbare mirakel (ein beglaubigendes Mirakel) om twyfelaars te

oortuig dat die kruisgebeure werklik kosmies-eskatologiese betekenis

het nie (Bultmann 1967:44). Bultmann erken dat die Nuwe Testament

baie keer wel só oor die opstanding praat. Bultmann wys egter daarop

dat hierdie gevalle meestal latere formulerings is. Wanneer Paulus

self in 1 Korintiërs 15:3-8 nog ooggetuies aanwie die opgestane Heer

verskyn het byvoeg, lyk dit of hy dieselfde doen. In werklikheid wys

Paulus daarmee dat hy, net soos die vroegste gelowiges, Jesus as

Opgestane Heer verkondig. Die opstanding kan nie enigsins as

verifieerbare mirakel dien nie. Nie net kan die opstanding nie as

objektiewe feit bewys word nie, maar ’n mitiese gebeure, naamlik dat

’n dooie lewendig word, is op sigself ongeloofwaardig (unglaubhaft).

Die opstanding is dus iets wat self geglo moet word. Die opstanding

is objek van geloof, omdat dit veel meer sê as dat ’n dooie lewendig

geword het. Dit is objek van geloof omdat dit ’n eskatologiese

gebeure is. Juis hierom kan dit nie ’n verifieerbare mirakel wees

nie. Geen mirakel kan getuig oor die eskatologiese feit dat die dood

se mag verslaan is nie. ’n Mens kan ook nie een saak wat geglo moet

word (die eskatologiese betekenis van die kruis) met ’n ander saak

wat ook geglo moet word (die opstanding van Jesus), bewys nie

(Bultmann 1967:45).

Regdeur die Nuwe Testament word die opstanding geteken as

eskatologiese gebeure waardeur Jesus die dood vernietig het en ware

en ewige lewe aan die lig gebring het. Deur die Doop kry gelowiges

deel aan Jesus se dood én aan sy opstanding. Dat gelowiges deel het

aan Jesus se opstanding, moet konkreet in hulle lewens bewys word

deur teen die sonde te stry. Die opstanding is dus geen mitiese

gebeure wat die betekenis van die kruis geloofwaardig maak nie. Die

opstanding moet geglo word, net soos wat die betekenis van die kruis

geglo moet word. Bultmann (1967:46) stel dit so: “Ja, die

opstandingsgeloof is niks anders nie as die geloof in die kruis as

heilsgebeure, aan die kruis as die kruis van Christus”. Hy wys

16

daarop dat ’n mens nie éérs aan Christus glo en daarná aan sy

kruisdood nie.

Om in Christus te glo, is om in die kruis as die kruis van Christus

te glo. Dit is nie omdat dit die kruis van Christus is, dat dit

heilsgebeure is nie. Dit is, omdat dit heilsgebeure is, dat dit die

kruis van Christus is. Daarsonder is dit net die tragiese dood van ’n

edele mens (Bultmann 1967:46).

Nou is die probleem: hoe word dit moontlik om die kruis as kruis van

Christus te beskou, en daarmee as heilsgebeure? Hoe kom ’n mens tot

geloof in die kruis as eskatologiese gebeure? Vir Bultmann (1967:46)

is daar net een antwoord: omdat dit so verkondig word, naamlik saam

met die opstanding. Christus die gekruisigde en verrese Heer ontmoet

ons in die verkondiging en nêrens anders nie.Ware Paasgeloof is om

hierdie verkondiging te aanvaar.

Dit sou ’n fout wees, meen Bultmann, om terugwaarts agter die

verkondiging in te vra na die historiese oorspronge daarvan om dit

daarmee te regverdig. Ons kan geloof nie regverdig deur historiese

ondersoek nie. Die verkondiging ontmoet ons as God se woord, daarom

vra ons nie dat dit gelegitimeer word nie. Dit bevraagteken óns

juis, naamlik of ons bereid is om dit te glo. Die verkondiging vra

ons om die kruis en opstanding as eskatologiese gebeure te glo,

sodat nuwe moontlikhede vir ons selfverstaan daardeur geopen kan

word. Hierdie soort geloof is ware Paasgeloof (Bultmann 1967:46).

Histories kan die Paasgebeure nie vasgestel word nie, alleen

maar die Paasgeloof van die dissipels. Die Christelike Paasgeloof is

egter nie geïnteresseerd in die historiese vraag daaroor nie. Vir

gelowiges is die historiese ontstaan van die Paasgeloof van die

dissipels die selfbekendmaking (Selbstbekundung) van die Opgestane

Heer, die daad van God waarin die heilsbetekenis van die kruis

voltrek word (Bultmann 1967:47).

17

Die geloof van die dissipels word ook nie weer ’n bewysbare

feit, op grond waarvan ons kan glo nie. Nee, die Paasgeloof self

hoort tot die eskatologiese gebeure, wat die objek van geloof is.

Daarmee word die verkondiging, wat sy oorsprong in die Paasgebeure

het, self eskatologiese heilsgebeure. Bultmann kwalifiseer die

verkondiging as dat dit mense vra om hulleself as Christus se mede-

gekruisigdes en mede-verresenes te verstaan. In die geklank van die

verkondiging word die kruis en opstanding tot hede gemaak en die

eskatologiese oomblik breek aan. Dit is alleen in hierdie

verkondiging dat ons die Opgestane Heer ontmoet (Bultmann 1967:47).

Net soos die woord en die apostel wat dit verkondig tot die

eskatologiese gebeure hoort, so ook die kerk waar dit verkondig word

aan gelowiges as versameling heiliges (mense wat die oorgang tot

eskatologiese eksistensie gemaak het). Kerk (ekklesia) is ’n

eskatologiese begrip. Wanneer dit “liggaam van Christus” genoem

word, word die kosmiese aard daarvan uitgedruk: Dit is nie ’n

historiese fenomeen in die sin van die wêreldgeskiedenis nie, maar

in die sin dat dit in die geskiedenis gerealiseer word (Bultmann

1967:47-48).

Slot

Ten slotte vra Bultmann, nadat hy die Nuwe-Testamentiese

verkondiging ontmitologiseer het, of daar ’n mitologiese res oorbly.

Hy antwoord dat daar vir mense wat spreke oor God se beslissende

eskatologiese handeling as mitologie beskou, vir seker ’n

mitologiese res oorbly. Tog is dit nie meer mitologie in die ou sin

van die woord sodat dit nou oorbodig word met die verdwyning van die

ou mitologiese wêreldbeeld nie. Die heilsgebeure is geen

mirakelagtige, bonatuurlike gebeure nie, maar ’n historiese

gebeurtenis in ruimte en tyd. Deur dit só voor te stel, word die

mitologiese sluier weggeneem en kom die Nuwe-Testamentiese

18

verkondiging tot sy reg, naamlik as aankondiging van die paradoks

dat God se eskatologiese handeling voltrek in die lewe van ’n

konkrete historiese persoon.

Net so is die verkondiging ook nie die misterieuse woorde van

’n orakel nie, maar sober verkondiging van die persoon en lotgevalle

van Jesus van Nasaret en die betekenis daarvan as heilsgebeure. Dit

kan wel verstaan word as historiese fenomeen deur die

geesteswetenskappe en kan selfs as moontlike wêreldbeeld beskou

word. Die verkondiging self maak egter die aanspraak dat dit God se

eskatologiese spreke is (Bultmann 1967:48).

Predikante en apostels is gewoon mense wat histories

geïnterpreteer kan word na gelang van hulle mensheid. Die kerk is ’n

sosio-historiese fenomeen met ’n geskiedenis wat deel vorm van ’n

kultuur se geskiedenis. Tog is hulle almal eskatologiese fenomene en

gebeure (Bultmann 1967:48).

Al hierdie aansprake is ’n struikelblok (skandalon) wat nie

oorkom kan word deur dialoog met die filosofie nie, alleen maar in

gehoorsame geloof. Hoewel al hierdie fenomene histories, sosiologies

en sielkundig ondersoek kan word, bly hulle vir geloof eskatologiese

fenomene. Dit is juis die feit dat dit nie bewys kan word nie wat

die Christelike geloof beveilig teen die aanklag dat dit mitologie

is. Die transendensie van God word nie immanent gemaak soos in die

mite nie. Nee, die paradoksale teenwoordigheid van God word bevestig

daarmee dat “die Woord mens geword het” (Bultmann 1967:48).

Kritiese waardering

Prioriteit van die verkondiging

Bultmann se motivering was suiwer daarop gerig om die mitologies

verwoorde Nuwe-Testamentiese verkondiging vir hedendaagse mense

verstaanbaar te maak. Omdat vele, veral in Suid-Afrika, hom as

19

ketter en ondergrawer van die geloof gebrandmerk het, moet hierdie

vertrekpunt van Bultmann duidelik gestel word.

Bultmann se definisie van die mite

Daar is dikwels van Bultmann verskil oor sy definisie van die mite,

naamlik soos dit in die destydse geskiedenis- en godsdienswetenskap

verstaan is. Schmithals (1995:171-178) bevestig die

Religionsgeschichtliche herkoms van Bultmann se verstaan van die mite, met

veral sterk invloed van Gogarten se gedagtegang daaroor.

Thiselton (1980:252-258) meen dat Bultmann drie afsonderlike

definisies gebruik vir die mite: die mite as mitiese wêreldbeeld,

die godsdienshistoriese definisie, en laastens die mite as

uitdrukking van menslike selfverstaan. Hierdie kritiek is ongegrond.

Bultmann gebruik slegs een definisie, naamlik die

godsdienshistoriese een. Die mitiese wêreldbeeld is nie ’n

definisie van die mite nie, maar die mitiese verwysingsraamwerk as

werklikheidsbeskouing waarbinne die mite verstaan word. Daarsonder

maak die mite nie sin nie. Net so is die intensie van die mite nie

gelyk aan ’n definisie nie, maar dui gewoon op dit waarna die mite

verwys, naamlik menslike eksistensie.

Die kritiek oor Bultmann se verstaan van mites was nie vir hom

van wesenlike aard nie. In sy latere werk oor ontmitologisering het

hy daarop gewys dat die definisie van die mite nie vir hom die

belangrikste saak in sy hermeneutiese program is nie (vgl. Bultmann

1967:179). Hy het selfs gesê dat enigeen vry is om iets heel anders

onder mite te verstaan. Sy kommer was dat die klem wat baie

deelnemers aan die debat op die definisie van mite geplaas het, die

aandag weggelei het van waaroor dit eintlik in sy program van

ontmitologisering gegaan het. Vir Bultmann het dit gegaan oor die

mitiese manier van dink, naamlik dat die werklikheid oop sou wees

vir ingrype van bonatuurlike magte. Dit kontrasteer met die geslote

20

werklikheidsverstaan van die natuurwetenskaplik georiënteerde

hedendaagse mense. Dit stel Bultmann, selfs in terme van die

destydse ontwikkeling in die kwantumfisika waarmee sommige gemeen

het die kousaliteitsbeginsel tot ’n mate gerelativeer sou wees. Hy

dui aan dat hierdie geringe mate van relativering nog geensins die

werklikheid oopgemaak het vir die ingrype van bonatuurlike magte en

geloof in mitiese wonders nie. Nog minder het die natuurwetenskappe

die eksperimentele metode laat vaar (Bultmann 1967:179-181).

Die probleem van die Nuwe-Testamentiese mitiese

werklikheidsverstaan en spreekwyse bly problematies vir hedendaagse

mense wat leef en werk in die konteks van wetenskap en tegniek.

Hiermee het Schelkle (1985:265) saamgestem, met die slotsom: “Darum

bleiben Entmythologisierung unsere Aufgabe.”

Dat Bultmann die uitdaging grondig aangespreek het, beteken nie

dat hy die wetenskaplike werklikheidsverstaan tot norm vir die

verkondiging gemaak het nie. Hy wou die verkondiging binne hierdie

verstaanshorison verstaanbaar maak. Hy het daarom nie die mitiese

elemente weggesny nie maar dit eksistensiaal geïnterpreteer. Wat

meer is, Bultmann het effektief met verwysing na onder andere die

Johannesevangelie se eiesoortige eskatologie, aangedui dat die Nuwe

Testament self reeds die noodsaak gesien het en met

ontmitologisering begin het. Hiermee het UlrichLuz (1966:367) hom

gelyk gegee: “So ist es richtig zu sagen, daβ das Neue Testament selbst die Aufgabe der

Entmythologisierung stellt”.

Eksistensiële interpretasie

Dit sou verkeerd wees om te dink dat Bultmann se aanwending van

begrippe wat ontleen is aan die eksistensiefilosofie gewoon beteken

het dat hy Martin Heidegger se eksistensiefilosofie net so oorgeneem

het vir die verstaan van die Nuwe Testament. Roger Johnson (1987:22)

wys daarop dat Bultmann aspekte van Heidegger se filosofie aangepas

21

het vir sy eie doeleindes. Wat meer is, Bultmann het Heidegger se

konsepte verenig met die heelwat ouer filosofies-teologiese tradisie

van die Marburgse Neo-Kantianisme. Dit is uit hierdie tradisie,

eerder as uit die eksistensiefilosofie, dat Bultmann se eie teologie

gegroei het. Bultmann se weergawe van eksistensialisme is daarom

eiesoortig, met wortels wat verder terug strek as sy samewerking met

Heidegger in die 1920’s. Om Bultmann daarvan te beskuldig dat hy sy

hermeneutiese program uitverkoop het aan Heidegger se

eksistensiefilosofie, is daarom ongegrond.

Bultmann (1965:192) self gee toe dat daar nie so iets is soos

’n ideale filosofie nie. Vir sy ontmitologiseringsprogram was die

ideale filosofie gewoon een wat gerig was op die verstaan van

menslike eksistensie, die saak waarop die Nuwe-Testamentiese

verkondiging ook fokus.

Die Christusgebeure as “mitologiese res”

Vir Bultmann is outentieke eksistensie nie ’n moontlikheid wat mense

in hulleself het, waartoe die (eksistensie-) filosofie hulle kan

bevry deur hulle daaroor in te lig nie. Volgens Bultmann se verstaan

van die Nuwe Testament is outentieke eksistensie iets waartoe mense

alleen van buite, van Godsweë, bevry kan word, en dan spesifiek deur

die Christusgebeure. Dit behels die prysgawe van alle menslike

sekuriteite in volledige vertroue dat die onsigbare God mense

liefdevol tegemoet kom in die Christusgebeure. Bultmann noem dit

die “mitologiese res” wat hy nie kan ontmitologiseer nie.Dit sluit

ook aan by sy konsekwente hantering van die historisiteit al dan nie

van die heilsgebeure. Hoewel Bultmann die kruis van Jesus as

historiese gebeure erken, is dit nie met die opstanding die geval

nie. Vir Bultmann is die opstanding nie ’n historiese gebeure wat as

sodanig geverifieer kan word nie. Daarmee gee Bultmann nie die

opstanding as heilsgebeure prys nie, maar stel hy by herhaling dat

22

dit geglo moet word as die betekenis van die kruis. Hiermee is dit

moeilik om te verstaan dat Bultmann deur sommige beskou kon word as

iemand wat die Christelike geloof ondergrawe.

Ten slotte

Bultmann is verskeie male beskryf as die grootste teoloog wat die

twintigste eeu opgelewer het. Dit is jammer dat hy in Suid-Afrika so

min erkenning gekry het en dat sy werk nie die aandag gekry het wat

dit verdien nie (Pelser 1987:162-163). Intendeel, Loubser (1996:49)

sê selfsdat dit die tydverdryf van ’n groot aantal Suid-Afrikaanse

teoloë was om op Bultmann se sogenaamde [my invoeging] tekortkominge

te wys. Dit laat die Suid-Afrikaanse teologiese konteks des te

armer.

Literatuurverwysings

Bultmann, R.K., 1965, Zum Problem der Entmythologisierung, in

Bartsch, H-W (Hrsg), Kerygma und Mythos, II: Diskussionen und Stimmen

zum Problem der Entmythologisierung, pp. 179-195, Theologische

Forschung 1, Hamburg-Bergstedt,Herbert Reich Evangelischer

Verlag.

Bultmann, R.K., 1967,Neues Testament und Mythologie: Das

Problem der Entmythologisierung der neutestamentlichen

Verkundigung, in Bartsch, H-W. (Hrsg), Kerygma und Mythos,I: Ein

theologisches Gespräch, pp. 15-48, Theologische Forschung 2,

Hamburg-Bergstedt, Herbert Reich Evangelischer Verlag, (ThF1).

Johnson, R.A.,1987, Rudolf Bultmann. Interpreting faith for the modern era,

The making of modern theology series, Volume 2, Collins, San

Francisco.

Loubser, J.A., 1996, Aspekte van Bultmann se Pauliniese

teologie, Nederduitse Gereformeerde Teologiese Tydskrif 37(1),49-60.

23

Luz, U.,1966, Entmythologisierung als Aufgabe der

Christologie, Evangelische Theologie 26, 349-368.

Malan, G.J., 2000, Bultmann se ontmitologiseringsprogram

herwaardeer, Hervormde Teologiese Studies 56 (4), 1107-1118.

Pelser, G.M.M., 1987, Die Ontmitologiseringsprogram van Rudolf

Bultmann, Hervormde Teologiese Studies 43,162-191.

Schelkle, K.H., 1985, Entmythologisierung in existentialer

Interpretation, Theologische Quartalschrift 165(4), 257-266.

Schmithals, W., 1995, Zum Problem der Entmythologisierung bei

Rudolf Bultmann, Zeitschrift für Theologie und Kirche 92(2), 166-206.

Thiselton, A.C., 1980, The Two Horisons: New Testament Hermeneutics and

Philosophical Description, with special reference to Heidegger, Bultmann, Gadamer

andWittgenstein, Exeter, Paternoster Press.

24